Die Wetsontwerp op Interregeringsmonitering, -ondersteuning en ingrypings (IMSI), wat daarop gemik is om munisipale en provinsiale mislukkings aan te spreek, loop volgens Afriforum die risiko loop om vorige foute te herhaal.
Die Afriforum-burgerregteorganisasie het verlede Vrydag (23 Januarie) amptelike kommentaar op dié wetsontwerp by die Nasionale Vergadering ingedien.
“Ons steun die doel van sterker ingrypingsmeganismes wanneer munisipaliteite hul grondwetlike pligte nie nakom nie, maar dit gaan nie werk sonder strukturele hervorming nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir plaaslike regeringsake by AfriForum.
Hy wys daarop dat vaardig- heidstekorte, swak finansiële bestuur en politieke onbestendigheid die werklike oorsake van munisipale ineenstortings is. Sonder strukturele hervorming sal ingrypings volgens hom net tydelike verligting bied.
Hy beklemtoon ook dat gemeenskapsbetrokkenheid nie opsioneel is nie. “Ingrypings sonder oorleg met inwoners ondermyn demokratiese beginsels en die sukses van herstelpogings,” sê hy.
AfriForum stel voor dat betroubare burgerorganisasies as vennote erken word om te help met die uitvoering van ingrypings, in plaas daarvan om hulle slegs as adviseurs te beperk.
Die organisasie het ook kritiek op die bepaling dat die koste van ingrypings deur munisipaliteite verhaal kan word. Volgens Mostert plaas dit die finansiële las van mislukte regerings op inwoners en belas- tingbetalers. Hy pleit vir deursigtigheid, openbare verslagdoening en onafhanklike oudits van ingrypingsbegrotings.
“AfriForum bly verbind tot konstruktiewe betrokkenheid by plaaslike regerings en staan gereed om bystand te bied ter beskerming van gemeenskappe se regte en belange,” sê Mostert.




