Met die tweede ronde van die Boland-grootuitdaagbeker-reeks goed op dreef, het die trane weer die naweek gevloei terwyl vreugde ook geheers het.
Paternoster het Langebaan op eersgenoemde se tuisveld gepak. Die tuisspan, wat rustyd reeds 24-17 voor was, moes in die tweede helfte alles in die stryd werp om sy voorsprong te verdedig en het die stryd 27-24 gewen.
Die besoekers, wat met lynstane gesukkel het, het baie besit afgestaan en die tuisspan was gewis die hongerste van die twee.
Langebaan, wat verlede week die onoorwonne St. Helenabaai tot ’n gelykopuitslag in Langebaan gedwing het, het dié keer baie kanse verspeel. Paternoster het met die oorwinning die sesde plek verseker en is gelyk met Mamre op die punteleer.
Die tuisspan, wat wel die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, het egter te veel hanteerfoute begaan en sodoende die besoekers toegelaat om besit om te keer. Hoewel die besoekers die meer aanvallende span was, was Paternoster se verdediging rotsvas.
Vredenburg se Burg Boys het gedoen wat geen span die seisoen nog kon regkry nie deur die onoorwonne St. Helenabaai in dié se agterplaas te klop.
Vredenburg het met die oorwinning nader aan die tweede geplaaste Agterbaaiers gekruip. Die oorwinning het ook die punteleer oopgegooi met Vredenburg en Young Hearts wat nou binne bereik van die Agterbaaiers is.
Young Hearts het Mamre op die grafkelder in ’n klipharde derby met 10-3 geklop nadat geen punte in die eerste helfte aangeteken is nie.
Die span van Ruben Abels het ook sy derde oorwinning van die tweede ronde behaal en is nou drie punte agter die derde geplaaste Vredenburg.
Saldanha het bewys hy gaan moeilik gekeer word om die uitspeelrondes te haal. Die blou tsoenami het Velddrif in sy eie agterplaas met 50-8 verwoes, terwyl Hopefield ook Piketberg 15-3 getroef het. . Hierdie naweek sal St. Helenabaai op sy beste moet wees as die Agterbaaiers wil doen wat geen span kon nie – om Saldanha in sy agterplaas te klop.
Piketberg sal sy momentum wil bou wanneer hy Mamre pak.
Young Hearts reis na Langebaan om sy drome lewend te hou terwyl die Burg Boys teen Paternoster wil voortbou.
Velddrif sal die naweek se loesing wil vergeet wanneer hy Hopefield pak.





