Saldanha se plaaslike sokkervereniging, Salfa, het Sondag 19 November ’n spoggeleentheid vir plaaslike sokkerklubs en hul ondersteuners aangebied.
Altesaam 16 plaaslike sokkerklubs van amper elke dorp in die Saldanha-munisipale gebied het aan die eerste Hollywood Bets-Uitklopbeker deelgeneem.
Diazville se sportkompleks was lanklaas so vol sokkerondersteuners.
Daar was nuwelinge soos die Eleven Strikers-sokkerklub van Paternoster wat ook die uiteindelike wenner van die dag was. Eleven Strikers het teen Zulu Boys van Vredenburg in die eindronde gespeel. Dié strawwe wedstryd het gelykop geëindig en moes met strafskoppe beslis word.
Die manne van Paternoster stap weg met die prysgeld, spoggerige sokkertoerusting van Hollywood Bets en natuurlik die spogregte.
Klubs soos Villagers AFC wat onlangs sy 50ste bestaansjaar gevier het, was ook teenwoordig.
Salfa wil graag sy dank betuig aan sy borg, Hollywood Bets, wat hopelik hierdie geleentheid elke jaar as inleiding tot die nuwe sokkerseisoen sal borg. Al die sokkerklubs wat deelgeneem het, word ook bedank, asook die getroue ondersteuners wat die dag saam geniet het.




