Die Lutzville-boer wat van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur aangekla word nadat ’n sesjarige kind in September raakgery is, is weer borgtog geweier.
Christoffel Stoman (70) se appèl teen borgtogweiering is op Vrydag 6 Desember in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys.
Die aanklagte teen hom het te make met ’n voorval waarin ’n sesjarige seun in September na bewering langs die pad omgery is.
Stoman was glo van mening dat die kind sy vrugte steel.
Sy aansoek om borgtog op nuwe feite is in November in die Lutzville-landdroshof van die hand gewys waarna hy hom tot die hoër hof gewend het.
Volgens die staat is sy ondersoek voltooi en hy het dus vir uitstel gevra om ’n streekhofdatum te kry. Die verdediging het nie beswaar gemaak teen die uitstel nie en die saak is uitgestel tot Maandag 13 Januarie.
Stoman word aangehou.



