Die borgtogaansoek van ’n polisiekonstabel van die Citrusdal-polisiekantoor, wat in hegtenis geneem is vir die beweerde verkragting van ’n jong vrou in die polisieselle, het vandeesweek voortgegaan.
Volgens Phaladi Shuping, ’n woordvoerder vir die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), is die slagoffer verlede naweek weens aanranding in hegtenis geneem en in die polisieselle aangehou. Die polisiekonstabel het na bewering by die sel waarin die klaer was, ingegaan en haar verkrag. Sy het die volgende oggend by ’n polisiebeampte wat vir dagdiens aangemeld het daaroor gekla.
Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), het gesê die staat het nog ’n aanklag – poging tot verkragting – by die klagstaat gevoeg.
Die saak gaan vandeesweek voort nadat die hof beslis het die beskuldigde moet om ’n bylae 5-borgtog aansoek doen. Die saak is aanvanklik uitgestel sodat beslis kon word vir watter soort borgtog die polisieman moet aansoek doen.
Die staat het aangevoer dit is ’n bylae 6-borgtogaansoek, terwyl die verdediging vir ’n bylae 5-borgtogaansoek gevra het.
Die hof het beslis die polisiekonstabel, wat in Piketberg aangehou word, kom vir ’n bylae 5-borgtogaansoek in aanmerking.
In ’n bylae 5-borgtogaansoek moet die beskuldigde die hof oortuig dat dit in belang van geregtigheid is dat hy of sy op borgtog vrygelaat word.
Ingevolge ’n bylae 6-borgtogaansoek moet die beskuldigde aantoon dat daar buitengewone omstandighede is wat sy of haar vrylating noodsaak.
Ntabazalila het te kenne gegee dat die staat van plan is om borgtog teen te staan.



