Polisieman van Citrusdal bly agter tralies ná beweerde verkragting

’n Polisiebeampte van Citrusdal wat daarvan aangekla word dat hy ’n vrou in die selle van die polisiekantoor verkrag het, sal vir eers agter tralies bly. (Foto ter illustrasie)Foto: Argief


Die polisiebeampte wat daarvan aangekla word dat hy ’n getroude vrou in die selle by die Citrusdal-polisiestasie verkrag het, se borgtog is geweier.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê dat die staat se saak teen die beskuldigde sterk genoeg is en hom voldoende met die verkragting en poging tot verkragting verbind.

Die hof glo dat die polisieman, indien hy vrygelaat sou word, die slagoffer sal intimideer omdat sy ondersteuners haar reeds aangesê het om die aanklagte te laat vaar.

Die slagoffer se man het op Donderdag 29 Februarie ’n klag van gewone aanranding teen sy vrou gelê waarna sy deur die beskuldigde in hegtenis geneem en in ’n aanhoudingsel toegesluit is. Hy het haar na bewering in dié sel verkrag en omgeswaai en weer probeer verkrag.

Sy kollegas wat saam met hom aan diens was het nie die slagoffer se klagtes oor die verkragting ernstig opgeneem nie, maar polisielede wat vir dagskof aangemeld het, het haar verklaring afgeneem waarop die polisieman in hegtenis geneem en aangekla is.

Die staat het ook getuienis gelewer van nog vroue wat kla oor seksuele misdrywe wat die beskuldigde teen hulle gepleeg het.

Die beskuldigde het in sy borgaansoek gesê dat hy en die slagoffer konsensuele seks gehad het.

Volgens Ntabazalila het die hof die slagoffer se weergawe geloofwaardig gevind aangesien dit deur omliggende omstandighede en bewyse ondersteun is, en beslis dat die beskuldigde in belang van geregtigheid nie vrygelaat word nie.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag 14 Mei vir verdere ondersoek en DNS-ontleding. Hy bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article