St. Helenabaai het Saterdag op sy tuisveld stadig begin, maar in die tweede helfte geen genade aan die besoekers, die Invincibles, getoon nie. Foto: Yaël Malgas


Met die voorbereiding vir die nuwe seisoen se wedstryde in volle gang is spanne steeds besig om verskillende kombinasies te toets. Die eerste ligawedstryde word reeds volgende maand gespeel.

St. Helenabaai het Saterdag op sy tuisveld die span van Invincibles onthaal. Die tuisspan, wat rustyd 10-0 voor was, het die wedstryd 46-0 gewen.

Die besoekers het in die eerste 40 minute goeie rekenskap van hulself gegee en die tuisspan met goeie verdediging op die agtervoet gehou.

St. Helenabaai het in die eerste helfte nie tot sy volle potensiaal gespeel nie, maar het in die tweede helfte gewys dat sy kombinasies vorm aanneem. Die besoekers kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.

Spanne het nog die naweek kans om hul kombinasies te toets voordat die liga op 2 Maart begin.

Die nuweling in die topliga, Steenberg’s Cove, het ook Saterdag geleer dat alles nie net maanskyn en rose gaan wees nie, toe die span in ’n wegwedstryd 15-26 teen Porterville vasgeval het. Saldanha het op sy tuisveld sy veldtog momentum gegee toe die Blou Tsoenami vir Good Hopes van Moorreesburg 36-5 geklop het.

Velddrif, wat vanjaar sy buiging in die Saldanha-top 8 maak, het in ’n wegwedstryd die span van Young Good Hopes (Ashton) 54-9 afgeransel.

Langebaan het op sy tuisveld die Swartland-kampioen in ’n riller van ’n wedstryd 22-21 geklop.

Paternoster kon nie die hitte in Van Rhynsdorp hanteer nie en het met 12-34 vasgeval.

. Ander uitslae: Abbotsdale 31-39 Grabouw, Goedverwacht 20-15 Villagers Wittewater, Never Despair 21-24 Wolseley, Piketberg 26-21 Majestics, Vredenburg 5-26 St. Georges (WP), Vredenburg 17-28 Durbell (WP) en Young Hearts 47-12 Violets (WP).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article