Saldanha kán op sy tuisveld geklop word, en as ’n span wil weet hoe, vra die Agterbaaiers.
Saldanha het Saterdag ’n tweede keer teen St. Helenabaai vasgeval – dié keer in nat, winderige toestande. St. Helenabaai, wat hom ná twee teleurstellende wedstryde eenvoudig moes regruk om sy uitspeelkanse lewend te hou, het egter nie teleurgestel nie. Saldanha, die verdedigende Boland-kampioen, was self stert in die lug voor die wedstryd nadat hy Velddrif verlede week nog met meer as 50 punte in ’n wegwedstryd geklop het.
Saldanha kon egter eenvoudig nie by die omstandighede aanpas nie en die besoekers het met ’n strafskop eerste bloed getrek.
Die tuisspan kon nie die besoekers se swak dissipline in die eerste helfte tot sy voordeel gebruik nadat St. Helenabaai ’n geelkaart gekry het nie. St. Helena het egter die druk goed verwerk en die kampioen met goeie verdediging op die agtervoet gehou. Die besoekers het in die eerste helfte genoeg gevaar om die pas in die wedstryd aan te gee en ná ’n onverdoelde drie gaan water drink met die telling 0-8.
Saldanha het wel die tweede helfte oorheers, maar die wil om te wen, het ontbreek. Die tuisspan het twee strafdoele oorgeklits en ses punte aangeteken.
Saldanha het ten spyte van die nederlaag steeds die eerste plek op die punteleer behou, met die Agterbaaiers wat nou in sy nek blaas. . Vredenburg, wat die naweek na die grafkelder reis, het Paternoster ’n rugbyles geleer met ’n goeie 52-0-oorwinning. Die Burg Boys sal Saterdag Ruben Abels se troepe moet trotseer en dit gaan gewis nie ’n maklike stryd vir die besoekers wees nie.
Ander uitslae: Piketberg 5-10 Mamre, Langebaan 5-8 Young Hearts, en Velddrif 7-10 Hopefield. Paternoster, wat die naweek die kampioen onthaal, kan enige span enige dag op sy tuisveld klop.
Die naweek se bepalings is: Paternoster t. Saldanha, Young Hearts t. Vredenburg, Mamre t. Langebaan, Hopefield t. St. Helena en Piketberg t. Velddrif.



