Skande en nogmaals skande. Spelers van Saldanha en St. Helenabaai gryp mekaar tydens die spanne se wedstryd in die Transnet-stadion in Saldanha. Foto: Maryke Swart


Dit is ’n skreiende skande en Boland sal nou moet bewys dat hy geen gunsteling het nie, het rugbyondersteuners op sosiale media gal gebraak.

Die drama volg nadat die wedstryd Saterdag tussen Saldanha en St. Helenabaai ná slegs tien minute in die tweede helfte afgelas is toe die wedstryd onbeheerbaar handuit geruk het.

Terwyl die twee spanne mekaar op sosiale media beskuldig oor wie wat gedoen het, het St. Helenabaai amptelik ’n klagte by die Boland-rugbyunie (BRU) ingedien. Volgens die klub se voorsitter, Edmund Williams, kan hy ongelukkig nie uitbrei oor wat die klagtes behels nie. Hy het egter wel bevestig sy spelers is met leë bierbottels en klippe op die veld bestook. Die geveg het vermoedelik begin nadat iemand in die gesig van ’n speler uit die Agterbaai gespoeg het en die “ma se goetes” kort daarna tussen die twee begin rondvlieg het. Die spelers het elk ’n rooikaart gekry en het mekaar daarna getakel en ’n toeskouer het glo op die veld gehardloop om deel te wees van dié geveg. Weslander het vertroulik verneem St. Helenabaai “soek net geregtigheid”.

Die klub is in die eerste ronde van die Boland-grootuitdaagbeker-reeks swaar deur BRU gestraf omdat hul ondersteuners met die skeidsregter woorde gehad het. St. Helenabaai se straf van R50 000 is opgeskort en tot R25 000 verminder, asook 15 ligapunte.

Die feit dat die span vir ses wedstryde sonder toeskouers moes speel, moet ook vir Saldanha geld, het ’n lid van die klubbestuur aan Weslander gesê. Wesbank is ook in die verlede swaar deur die unie gestraf, terwyl Abbotsdale en Porterville ook reeds swaar gestraf is.

Volgens Yaaseen van der Westhuizen, die voorsitter van die Saldanha-rugbyklub, is hulle ’n trotse instelling van sportmanskap en kameraadskap en veroordeel sterk enige vorm van ongewenste gedrag op die rugbyveld.

“Ons klub is gegrond op die beginsels van eerlike spel, respek en liefde vir rugby. Rugby is ’n sport wat dissipline, spanwerk en integriteit vereis en by Saldanha-rugbyklub glo ons daaraan om hierdie waardes te handhaaf, nie net as ’n organisasie nie, maar as ambassadeurs van die sport in ons gemeenskap.

“Rugbyboewery en onbetaamlike gedrag het geen plek in rugby nie, en ons verwerp sulke optrede met die minagting wat dit verdien.”. Die Boland-rugbyunie is vir kommentaar genader, maar het teen druktyd geen terugvoering gegee nie. Weslander het vertroulik verneem ’n tugondersoek is wel van stapel gestuur, wat verdere stappe sal bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article