Talle leerders in die Weskus het steeds nie plek op die skoolbanke nie.

Met die tweede week van die skooljaar wat reeds verby is, is party ouers steeds bekommerd oor die plasing van hul kinders in skole.

In die Weskus is talle ouers met kinders in verskeie grade moedeloos gewag en gesukkel.

Shanell Klaase, ‘n ouer van beide gr. R- en gr. 2-kinders, voel die druk op haar skouers. Met hul verhuising van Lambertsbaai haar gr. 2-seuntjie nog geen plek in ‘n skool nie. Dit is vir Klaase hartseer dat haar seun, wat ‘n topkandidaat in gr.1 was, nog nie op die skoolbanke kan sit nie.

“As ouers laat dit ons soos mislukkings voel. Dit is baie hartseer om te sien hoe al die kinders in die oggend skool toe gaan en my seun vra elke dag wanneer gaan hy skool toe. Om elke dag ‘n verskoning te gee, maak ‘n mens as ouer ook baie hartseer.”

Klaase het al talle oproepe na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gemaak en telkemale dag in en dag uit die Vredenburg-kringkantoor vir antwoorde besoek, maar tot dusver is sy aangeraai om te wag en “dit kweek frustrasie”.

“Dit is vir my baie belangrik dat hy in ‘n skool geplaas word – veral omdat hy verlede jaar so goed gevaar het. Hy leef hom uit in skoolaktiwiteite en geniet dit. Ek wil net die beste vir hom hê.”

Vir Levona Leutloa is dit ook bitter belangrik dat haar gr. 12-dogter geplaas word, juis omdat dit een van die belangrikste grade in ‘n kind se skoolloopbaan is. Haar dogter was in BeaufortWes op skool voordat hulle die skuif Weskus toe gemaak het.

“Ek is baie bekommerd en ongelukkig omdat ek reg van die begin af al die regte kanale gevolg en aansoek gedoen het. Sy moet in ‘n skool wees sodat sy haar studies kan voltooi om nie ‘n terugslag in haar toekoms te hê nie,” meen Leutloa.

Volgens die WKOD moet 14 gr.-R-, 51 gr.-1- en 56 gr.-8-leerders in die Weskus nog geplaas word.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die WKOD, sê hoewel die stelsel aan die beweeg is, is die 10de skooldag krities.

“Dit gee ons die geleentheid om leerders wat nog nie opgedaag het nie, te deregistreer, wat plekke oopmaak vir diegene op waglyste. Die aantal leerders op daardie dag sal ook klasgroottes bepaal. Dit sal ons toelaat om te bepaal waar behoeftes lê. Byvoorbeeld, as addisionele onderwysposte in ‘n skool benodig word om groot klasgroottes te hanteer, of as klasgroottes klein is, en daar verdere geleenthede vir plasing is.

Kortom, die stelsel moet dus tot rus kom voordat ons behoeftes en geleenthede akkuraat kan bepaal,” sê Hammond.

Sy voeg by sodra hierdie syfers akkuraat nagegaan en bevestig is, sal hulle vaste data oor plasings en enige uitdagings kan verskaf.

“Ons doen ‘n beroep om geduld en begrip. Ons is daartoe verbind om ‘n plek vir elke kind te bied en werk hard om dit te bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article