’n Sokkerspeler van Hopland, Saldanha, het die geleentheid van ’n leeftyd gekry om in Spanje te gaan sokker speel.
TJ Diedericks (22) is deur die BT Football Recruitment Agency gekies as een van 18 spelers wat Spanje toe gaan om aan sokkerproewe deel te neem.
Volgens dié jong speler was dit nog altyd sy droom om sokker verder te neem en sy merk in dié sport te maak, en hy het angstig op die uitslae gewag.
BT Football Recruitment Agency se missie is om talentvolle sokkerspelers van oral in Afrika te identifiseer en sodoende spelers geleenthede by professionele sokkerklubs in Afrika sowel as in die buiteland te bied.
Toe Diedericks die nuus ontvang dat hy vir die proewe gekies is, vertel hy, kon woorde nie beskryf hoe hy gevoel het nie. “Ek was baie opgewonde en het glad nie woorde gehad nie,” vertel hy.
Diedericks sê sy liefde vir sokker het reeds op ’n jong ouderdom ontwikkel.
Diedericks het al aan verskeie proewe deelgeneem, soos die Ajax-proewe en die Cape Town All Stars-proewe, toe hy net 15 jaar oud was.
Met al die harde werk en toewyding wat Diedericks insit, vertel hy, is sy grootste ondersteuners sy ouers en sy suster.
Hy vertel aan Weslander hy sien uit na die nuwe ervaring en alles wat hy gaan leer en hy is van plan om die tyd oorsee te geniet.
Om sy droom te verwesenlik, het Diedericks egter sowat R40 000 nodig om al sy koste te dek.
“Ek is baie trots om die Weskus in Spanje te gaan verteenwoordig, en sal elke skenking wat my droom sal help verwesenlik, opreg waardeer.”
Alle geld moet teen Woensdag 31 Augustus betaal word.
Lesers wat Diedericks met skenkings wil help, kan sy ouers, David Diedericks by 072 180 3937 of Chris-Ann Diedericks by 079 724 8049, kontak.





