Dis nie asof ek myself nie al op hierdie weg bevind het nie – dié keer is dit egter anders; duideliker en met soveel meer intensiteit belaai.

Dis nie ’n steurende of negatiewe intensiteit nie. Nee, dis een wat met deurweekte, gelouterde passie, ervaring en liefdevolle omarming ingekleur word.

Wat dit meer betekenis gee, is die feit dat dit letterlik in lydenstyd afspeel – die tyd wanneer Christene oor die wêreld heen opnuut besin oor die kruisgebeure en die wesenlike verskil wat dit op die individu se geloofsbelewenis het of kan hê.

Op ’n intieme persoonlike vlak was dit asof ek my eie golgota of lydenswegervaring op só ’n tasbare wyse beleef het. En dit wat ek op hierdie weg gewaar en ervaar het, het die mens wat ek is net meer in verwondering laat staan oor my hier wees en uiteindelike doel op aarde.

Die ironie is dat ek hierdie lydenswegervaring deurgaan waar dit vir my gevoel het asof ek niks het om te bied nie; asof die uitdagings rondom my só gewigtig is dat ek nie nog plek, krag of ruimte het om iets van myself met ander te deel nie.

Wel, dis hier waar ek een van my grootste lydenstydlesse begin leer het, en dit is om midde-in jou eie swaarkry nie op die self te fokus nie, maar juis ook die pyn, hartseer en lyding van ander raak te sien. En nie net raak te sien nie, maar om ook fisiek nader te staan en ’n hand uit te steek. Dit het my onmiddellik laat terugdink aan ’n tydperk toe ek ook deur ’n soortgelyke moeilike tyd in my lewe gegaan het en hoe ek deur my betrokkenheid by ander se omstandighede my eie heling ontvang het.

So, wat het ek gesien en waargeneem?

Ek het gesien en ervaar daai dag toe ek sprakeloos moes toekyk hoe ’n ma letterlik haar laaste uit die beursie leegmaak om ten minste net die broodnodigste vir die dag aan te skaf. Die sakkie wortels wat moes bykom, haal sy half skamerig uit die mandjie, want dit is ’n paar rand meer as wat sy op die kasregister se venstertjie sien. Ek probeer my brein dissiplineer om nie te dink aan hoeveel monde daardie karige paar kosgoedjies later die aand moet voed nie.

Dis nie net sy nie, dink ek. Hierdie is ’n eerlike refleksie van wat soveel van ons, veral die afgelope jaar of twee, so eg aan eie lyf ervaar. Dis die kinderhandjie wat die pakkie “bigga chips” wou hê wat my beweeg het om dit, tesame met die wortels, by my goedjies te sit. Haar sagte “dankie, meneer” bly my by.

Ek het die noodkreet van ’n gesin aangehoor wat raadop is oor die krisis waarin hulle vasgekeer is met ’n seun wat met sy verslawing aan dwelms vernietiging saai; hoe die eens slim en vrolike kind van hulle in ’n monster ontaard het en vir wie die soektog na die volgende “high” die hoogste daaglikse prioriteit begin raak het, en die absolute magteloosheid en verslaenheid van ouers wat nie meer weet wat om nog vir hul kind te doen nie.

En skielik het my eie uitdagings na ’n nietigheid begin klink.

Dis egter ook die raaklees en raaksien van omstandighede en situasies van ander wat my opnuut tot die besef laat kom het dat ander se lydensweg net soveel swaarder is as my eie.

Dis hier waar die pendulum begin swaai het – positief begin swaai het.

Eerder as om myself jammer te kry oor my eie sogenaamde “groot uitdagings”, kon ek my begin vereenselwig met die lyding en swaarkry van ander en my troos daarin vind dat ons almal op die een of ander wyse ’n lydensweg het wat ons in hierdie tyd deurmaak.

Die grootste troos wat ek dié keer op so ’n tasbare wyse kon ervaar, is dat Hy wat die pad na Golgota enduit vir my en ons gestap het, bewus is van ons aardse lydensweg; nie net bewus is daarvan nie, maar ons ook elke dag dra en versterk op hierdie weg. In die proses word ek een met en verstaan ek die Golgota-storie. ’n Verdieping vind in my plaas in my geestelike reis op aarde en ek word meer mens om ’n daar-wees-mens vir ander te word en sodoende lof en aanbidding te bring aan Hom wat ons die genade daartoe skenk.

In en deur die lyding en swaarkry van ander het ek begin leer om my seëninge opnuut te begin tel. En op my eie lydensweg het ek op die vreemdste wyses die bemoediging en aanmoediging van hulle – naby en ver – begin ervaar. Die einste aanmoediging en bemoediging wat my die versekering kom gee het dat ek nie alleen is nie; dat uit die swaarkry en lyding ’n nuwe hoofstuk, dieper geestelike ontwaking en onblusbare hoop gebore kan word.

Geseënde Paasfees vir jou!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article