Die bakkievrag onwettige kreefsterte waarop beslag gelê is.Foto: Weslander-argief


’n Kreefsmokkelaar wat in 2022 deur die Weskus se blitspatrollie met ’n bakkievrag kreefsterte ter waarde van R1,1 miljoen aangekeer is, moet ’n boete van R300 000 betaal – of vir 15 jaar in die tronk gaan sit.

Indien Waseem Nackerdien (38), wat Vrydag 31 Mei vanjaar skuldig bevind is, gekies het om nié die boete te betaal nie, sou sy vonnis van 15 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer die Wet op Lewende Marienehulpbronne oortree nie, in werking getree het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Nackerdien die keuse gehad om R50 000 op die dag van vonnisoplegging te betaal, en daarna R10 000 per maand, óf effektief 15 jaar in die tronk te gaan sit.

Weslander het destyds berig die altesaam 17 534 kreefsterte is Vrydag 11 Maart 2022 agter op ’n Ford Ranger-bakkie onderweg van Paternoster na die Paarl gevind.

Die blitspatrollie het inligting ontvang van ’n voertuig wat moontlik onwettige kreef van Paternoster af vervoer en ’n Ford Ranger-bakkie omstreeks 12:00 op die Paternosterpad onderweg na Vredenburg gesien.

Die polisie het die bakkie van die pad laat aftrek.

Die vrag kreefsterte in die Ford Ranger se laaibak was in toegeknoopte plastieksakke verpak.

Diego Swartz (21) is aanvanklik saam met Nackerdien in hegtenis geneem. Swartz is egter intussen onskuldig bevind en gevolglik vrygespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article