Groot ontsteltenis het dié week in Saldanhabaai geheers oor ’n swendelaar wat op die een of ander manier persoonlike inligting van inwoners bekom het, en met vals dreigemente mense gekry het om geld oor te betaal.
Die vermeende swendelaar doen hom voor as ’n munisipale amptenaar, die “hoof van diskonneksie”, ene Mr Rodwell Khumalo. Hy tree in verbinding met inwoners via WhatsApp en stel hulle in kennis dat hul water en elektrisiteit weens wanbetaling geskeduleer is om afgeskakel te word.
Aangesien hy die inwoners se persoonlike inligting het en nie sommer net ’n generiese boodskap stuur nie, lyk dit wettig.
Ethne Lawrence, ’n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), verseker inwoners dat daar nié by die munisipale databank ingebreek is nie. “Nee, ons databank is nie gehack nie.”
SBM het SMS-boodskappe en e-posse uitgestuur aan rekeninghouers en kennisgewings is ook op hul webwerf en sosialemedia-bladsye geplaas. Daarin waarsku hulle inwoners om geensins met die vermeende swendelaar te kommunikeer nie. “Die munisipaliteit sal nooit rekeninghouers per WhatsApp inlig oor ontkoppeling nie. ’n Formele kennisgewing sal per hand oorhandig of per e-pos gestuur word voor munisipale dienste afgeskakel gaan word.”
Lawrence het benadruk dat die saak tans ondersoek word. Sy moedig rekeninghouers wat reeds betalings aan die persoon gestuur het aan om ’n klagte by die polisie aan te meld.






