Nog ’n jong lewe is kortgeknip nadat ’n voetganger Dinsdagoggend voor ’n aankomende trein in Witteklip beland het. Min is bekend oor wat presies tot die tragedie gelei het, maar die voorval het wel weer die vergrootglas geplaas op die gevare wat treinoorgange en -spore inhou. Hoewel duidelik sigbare stoptekens by talle treinoorgange op paaie in die Weskus aangebring is om motoriste en voetgangers te waarsku oor die moontlikheid dat ’n trein die pad kan oorsteek, word min ag hierop geslaan.
Veral motoriste ry dikwels oor hierdie treinspore sonder om selfs spoed te verminder, links of regs te kyk, of te stop – dít terwyl talle voetgangers ook dikwels kortpad oor die treinspore kies of kinders op die spore speel.
Oor die jare het treinverkeer wel skerp afgeneem, met meer vragmotors wat deesdae op die paaie merkbaar is, maar met ’n aktiewe spoorvervoerstelsel kan goederetreine steeds van tyd tot tyd verwag word.
Die spoorvervoermaatskappy Transnet het juis daarom talle bewusmakingspraatjies – veral by skole in die omgewing – van stapel gestuur om leerders wat treinspore moet oorsteek op pad skool toe of in gebiede naby treinspore woon, oor die gevare in te lig.
Transnet het ook al vantevore betonpilare met versperrings al langs die spoorlyn opgerig, maar dit is mettertyd stuk-vir-stuk deur mense van die gemeenskap weggedra.



