Skryf nou in vir die sauvignon blanc-kompetisie.Foto:


Die groot afwagting is verby, inskrywings vir die Concours Mondial du Sauvignon is nou oop. Indien jy ernstig is oor sauvignon blanc, het jy nou die kans om jou wyn te meet aan sowat 1 000 ander sauvignon blanc-wyne van reg oor die wêreld. In 2023 vind hierdie kompetisie vir die eerste keer op eie bodem plaas.

Suid-Afrika speel gasheer

Nie slegs Suid-Afrikaanse sauvignon blanc nie, maar ook die land self word onder ’n vergrootglas geplaas deur hierdie vooraanstaande kompetisie. “Deur na verskillende lande te toer, word die kollig op beide die kompetisie en medaljewenner-wyne geplaas,” sê Quentin Havaux, direkteur van Concours Mondial du Sauvignon.

Havaux sê die keuse van gasheerland vind nie lukraak plaas nie, “ons as organiseerders teiken markte wat groei toon in beide produksie en die verbruik van hierdie wyn. Ná 14 jaar in Europa was Suid-Afrika ons eerste keuse as gasheerstreek – danksy die dinamiese rol wat Sauvignon Blanc Suid-Afrika in die produksie van sauvignon blanc in die land speel”.

’n Gulde kans vir produsente

Volgens RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA, moet meer Suid-Afrikaanse produsente hierdie geleentheid op eie bodem aangryp en inskryf. “Die Concours Mondial du Sauvignon is ’n waardevolle en onontbeerlike hulpmiddel vir sauvignon blanc-produsente om verskeie redes: dit bied veral groot internasionale blootstelling, dit dien as ’n internasionale bemarkings- en verkoops-instrument, dit onderskryf die wenwyne met ’n seël van goedkeuring en dit is ’n betroubare koop-aanwysing vir die verbruiker.”

Goue en silwermedaljes word toegeken aan die beste mededingende inskrywings, sowel as spesiale trofeë aan inskrywings wat die hoogste tellings behaal in die kategorieë van droë ongehoute sauvignon, droë houtverouderde sauvignon, ongehoute sauvignon-gebaseerde versnitte (minstens 51% sauvignon), en houtverouderde sauvignon-gebaseerde versnitte (minstens 51% sauvignon).

Die kompetisie se proe-paneel is uitsluitlik ’n handelspaneel wat bestaan uit uitgesoekte spesialiste van oor die wêreld heen, insluitend kopers, wynskrywers en spesialis-kritici. Sowat twintig nasionaliteite word in die paneel verteenwoordig en verseker sodoende die uitstaande diversiteit wat die Concours Mondial du Sauvignon onderskei van enige ander wynkompetisie ter wêreld.

“Benewens die gebruiklike puntestelsel uit 100 sal elke wyn vanjaar ook ’n gehaltebeoordeling ontvang wat gebaseer is op proe-kommentaar deur ons paneel van internasionale kundiges,” sê Havaux. “Só verseker ons produsente van sauvignon blanc van groter deursigtigheid en voorsien aan hulle nuwe reklame-vaardighede om hul wyne te bemark.”

Vyf dae besoek aan Suid-Afrika

Die 2023 Concours Mondial du Sauvignon vind plaas van Maandag 13 Maart tot Vrydag 17 Maart in Franschhoek in die Kaapse Wynlande. Altesaam 35 internasionale beoordelaars word vir vyf dae in Franschhoek onthaal met proe-sessies oor drie dae, asook uitstappies na sauvignon blanc-gebiede soos Durbanville en Constantia-wynvallei.

Die kompetisie word aangebied deur die kultivarvereniging Sauvignon Blanc Suid-Afrika, in samewerking met nasionale, sowel as internasionale vennote. Platinumvennote is die Nasionale Konvensieburo, Wesgro, Vinventions en Concours Mondial de Bruxelles, en bronsvennote is Boutes, Tonnellerie Garonnaise, Tonnellerie Sylvain, Enartis, Beveratech, FNB, Porex en Hillebrand GORI.

“As platinumvennoot en maatskappy wat in wyn belê, stel ons ons kliënte, ons mense en ons sakevennote hoog op prys,” sê Johan Conradie van Vinventions. “Sáám wil ons ’n storie van sukses skryf – ’n verhaal wat ons almal reg oor die wêreld bind, ’n storie wat ons kliënte se verwagtinge inspireer én oortref. Daarom wil ons saam met Concours Mondial du Sauvignon ons verhouding met sauvignon blanc bevorder en help om ’n verhaal te skryf waarin hierdie wyne sukses in die mark behaal.”

Die sperdatum vir inskrywings is Vrydag 17 Februarie 2023 en monsters moet teen Dinsdag 21 Februarie 2023 afgelewer word. Registreer nou by https://cmsauvignon.com/en/registration/. Die resultate sal op Maandag 20 Maart 2023 by Prowein in Düsseldorf, Duitsland, bekend gemaak word.

Besoek www.sauvignonblanc.com of kontak Sauvignon Blanc SA by info@sauvignonblanc.com of 021 975 4440 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article