’n Motoris het waarskuwingskote in die lug geskiet nadat ’n vermeende dronkbestuurder hom glo op die pad “geterroriseer” het.

Volgens kapt. Tania Helfrich word ’n Hopefielder (42) van poging tot moord en dronkbestuur aangekla ná ’n vreesaanjaende voorval verlede Maandagaand 25 Julie op die pad tussen Vredenburg en Velddrif.

Die beskuldigde van Hopefield was onderweg na Vredenburg, maar het glo heen en weer oor die pad gery en uiteindelik ’n motorbestuurder van Velddrif se voertuig van die pad af gedwing.

Volgens die Velddrif-bestuurder se verklaring aan die polisie het die motor wat hom van die pad gedwing het, aanvanklik eers aangery, maar toe omgedraai om hom verder vir etlike kilometers ver op die pad te “terroriseer”.

Die aggressiewe intimidasie was van so ’n aard dat die Velddrif-inwoner se motor uiteindelik dwars oor die pad tot stilstand gekom het, waarna die vermeende dronkbestuurder van Hopefield toe in die Velddrif-motoris se voertuig vasgery het.

Helfrich sê die slagoffer het aan die polisie gesê hy het toe met sy vuurwapen waarskuwingskote in die lug geskiet in ’n poging om homself te verdedig. Eers daarna het die ander motor weggejaag.

Die beskuldigde is naby Hopefield aangekeer en aanvanklik op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem, maar weens die ernstige aard van die voorval is ’n klag van poging tot moord later bygevoeg.

Volgens Helfrich het die beskuldigde Woensdag 27 Julie in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article