“Why me?” is die laaste inskrywing wat ’n 17-jarige skoolseun van die Hoërskool Weston Vrydag 23 Junie op sy Faceboek-profiel gemaak het.
Heinrich Koras is twee dae later, op sy verjaarsdag, koelbloedig doodgeskiet.
Sy pa, ook Heinrich Koras, ’n onderwyser by die Hoërskool Diazville, beskryf sy stil, liefdevolle lieflingseun, wat ook “Frikkie” genoem is, as iemand met ’n baie mooi glimlag.
Hy is Sondagoggend omstreeks 06:00 voor sy ouma se huis doodgeskiet.
“Om die oggend wakker gebel te word en te hoor jou seun is geskiet . . . dis ’n baie harde slag vir ons familie. Ek verstaan nie hoekom dit gebeur het nie. Ons het so baie vrae. Ek weet nie hoekom die skieter hom moes doodskiet nie; my seun was nié ’n gangster nie. Die Here moet ons help.”
Koras sê ook sy seun het baie potensiaal gehad, goed met sy hande was en altyd goed vir hulle reggemaak het.
Hy was ook lief om kletsrym-liedjies saam met sy vriende te skryf en op te neem.
Koras jr. het gr. 8 en 9 aan die Hoërskool Diazville voltooi voordat hy vanjaar by die Hoërskool Weston in Vredenburg begin skoolgaan het.
Koras sê sy seun was Saterdagaand by ’n partytjie in Diazville, waarna ’n vriend hom Sondagoggend vroeg – die dag van sy verjaarsdag – gaan aflaai het.
Hy het by sy ouma se huis in Moonstonestraat, Diazville, aangeklop en was besig om die hek toe te maak toe hy in die linkerarm en in die gesig geskiet is. Hy het net daar aan sy wonde beswyk.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, het gesê benewens die moord op Koras jr. is nog ’n man die afgelope naweek doodgeskiet en twee ander gewond in ’n vlaag van geweld.
Saterdagaand het inwoners van George Kerridge, Vredenburg, ’n sarsie skote hoor klap, waarna die liggaam van ’n man wat hulle net as “Trigger” ken, leweloos op die hoek van Kootjieskloof- en Greenfieldstrate gelê het.
Volgens Helfrich kon die man, wat deur die kop geskiet is, nog nie geïdentifiseer word nie.
Helfrich het ook gesê dat die polisie twee selfone, ’n bos sleutels, ’n mes, ’n goue horlosie, ’n bruin beursie en ’n 9 mm-pistool met een patroon in die magasyn by hom gekry het.
“Die vuurwapen is vir ballistiese toetse weggestuur en polisiedeskundiges gaan die selfone fynkam vir meer inligting oor die oorledene se bewegings voor sy dood.”
In nóg twee skietvoorvalle het aanvallers ’n man van Diazville Sondagmiddag net voor 17:00 in sy huis in die arm gewond, en Maandagaand is op nog ’n man in Diazville geskiet. Helfrich het gesê hy is in die boud gewond.
Die polisie kon nie die bespiegeling dat dié vier voorvalle met mekaar verband hou, bevestig nie.
Helfrich het gesê die onderskeie speurtakke ondersoek die motiewe vir die moorde en ander skietaanvalle.




