Die Hoërskool Diazville het met trots aangekondig dat Gregory Makan en Ursula Boy as dié skool se permanente adjunkhoofde aangestel is.

Beide Makan en Boys het sedert 2019 in die rol van waarnemende adjunkhoofde gedien en is amptelik in Junie in hul permanente poste verwelkom.
Wat hierdie geleentheid nog meer spesiaal maak, is dat Boys die eerste vrou in die skool se geskiedenis is wat ‘n adjunkhoofpos beklee. Sy meen dit beteken die afbreek van bakens en verteenwoordig ‘n mylpaal in geslagsgelykheid, wat nie teen norme indruis nie, maar grense verskuif. Sy kom uit ‘n familie van onderwysers – ‘n beroep waarop sy ook verlief geraak het.
“Ek voel baie dankbaar teenoor die Here wat ‘n nuwe deur vir my oopgemaak het en ek is opgewonde oor die nuwe seisoen met gepaardgaande nuwe uitdagings.”
As adjunkhoof sien sy uit om as deel van ‘n dinamiese span opvoeders ‘n ondersteunende rol vir die hoof en die breë skoolgemeenskap te speel.
“Ek sien in dieselfde gees ook uit na my onderskeie pligte en om ‘n span leiers rondom my te bou, wat die vooruitgang en bemagtiging van ons leerders en veral vroue in ons gemeenskap belangrik ag en bevorder.”
Hoewel Makan nie uit ‘n familie onderwysers kom nie, is dit egter persoonlike eienskappe soos dissipline, harde werk, toewyding aan ‘n saak en ‘n natuurlike geneigdheid om ander te help, wat instrumenteel in die bevordering van sy liefde vir onderrig was.
Makan is al sedert 2002 deel van die Hoërskool Diazville-span en is baie opgewonde oor dié amptelike pos en vir dit wat voorlê. “Ek is verheug oor my aanstelling en ek voel ek het soveel meer om tot die Diazville-gemeenskap by te dra. Ek voel dit is belangrik dat die skool die hoeksteen vir die bou van ‘n beter gemeenskap moet wees. Ek wil ook graag my vrou, Brigitte, bedank, wat ‘n steunpilaar in my lang reis tot nou is.”
Makan hoop om ‘n 100%-matriekslaagsyfer te sien voordat hy eendag aftree en sy visie is om meer leerders by tersiêre instellings te sien. “Ek weet dit klink soos ‘n cliché, maar ons moet leerders opvoed, wat ‘n betekekenis- volle bydrae tot ons gemeenskap kan lewer. Ons moet ons leerders verbeter – nie net om hulle vir die eksamen voor te berei nie, maar ook vir die lewe ná skool.”
Boys se woorde aan die gemeenskap, leerders en personeel van die skool is om saam te staan as ‘n verenigde front en die Hoërskool Diazville tot nuwe en groter hoogtes te neem. Makan bedank die ouers en sien daarna uit om te ervaar hoe die leerders hul volle potensiaal bereik, en siek ook daarna uit om verder met sy kollegas saam te werk.
Paul Haricombe, die skoolhoof, sê met Makan en Boys se sterk leiers- vermoë, toewyding aan onderwys en passie vir leerdersukses, is hy vol vertroue dat dié twee ‘n waardevolle bydrae tot die skoolgemeenskap sal lewer.
Dit is merkbaar dat beide Makan en Boys ‘n voorspoedige toekoms vir die skool sien en gereed is om hul nuwe rolle aan te pak.






You must be logged in to post a comment.