’n Besoek aan die Fishing For Jesus Vroeëkinderontwikkelingskool, die eerste en enigste van sy soort in St. Helenabaai, vertel die verhaal van een mens se droom wat voortleef selfs ná haar afsterwe.
Die skool in Laingville, vir kinders tussen drie en vyf jaar, is gestig deur wyle Virginia Vraagom, ’n veelbekroonde in onderwyskringe en strategiese rigtingwyser, leier en voorbeeld vir almal met wie sy in aanraking gekom het.
Vir 41 jaar, tot met haar aftrede in 2018, het sy haar tyd daaraan gewy om duisende kinders te leer om hulself as hoëpresteerders te beskou wat hulself voorberei om as kreatiewe, verantwoordelike en deernisvolle landsburgers hul plek in die samelewing vol te staan.
Nadat sy die tuig neergelê het, was haar droom om die leemte om kleuters vir graad R voor te berei, aan te pak deur in 2019 ’n skooltjie op die been te bring. Baie hindernisse moes oorkom word, waarvan die grootste was om ’n perseel te bekom vanwaar die skooltjie bedryf kon word.
Uiteindelik het ’n familielid die bestaande perseel beskikbaar gestel en het die Fishing For Jesus Vroeëkinder-ontwikkelingskool sy eerste treë gegee.
Net daarna het die departement van onderwys Virginia gevra om as hoof by Panorama Primêr op Vredenburg waar te neem. Aangesien haar suster, Gloria Barends (59), van die begin af deel was van Fishing For Jesus se personeel en bestuur, het sy haar gevra om oorsiener te wees en die finansies en administrasie te behartig, en die kinders se etes voor te berei. Twee onderwyseresse het die span volgemaak.
Een jaar by Panorama Primêr het twee geword en ten laaste sou Virginia ook die eerste drie maande van 2022 daar wees. Gloria het aangebly by Fishing For Jesus, met Virginia wat agter die skerms leiding gegee en die kurrikulum voorberei het.
Vandag weet Gloria dat die Here ’n plan gehad het met alles soos dit gebeur het, want die oggend van 28 Februarie 2022 is Virginia dood in haar huis aangetref. Sy het gesterf aan natuurlike oorsake.
Vir Gloria was dit ’n harde slag, want die twee sussies het ’n besondere verhouding gehad. Maar, ten spyte van die geweldige verlies kon Gloria die Here se hand in die sameloop van omstandighede sien, want hier was sy, ’n leek in die onderwysveld, vir meer as twee jare onwetend met kennis en ervaring deur ’n meester in die veld voorberei, besig om die droom aan die lewe te hou.
Gloria het met die ondersteuning van haar man, Moses, wat self jare lank ’n onderwyser was, die skool oopgehou en bou vandag voort op die fondasie wat gelê is. Sy het ook vanjaar by die Vroeë-leerhulpbron-eenheid (ELRU) se aanlyn studieprojek ingeskakel om die regte kwalifikasies te bekom.
Die ander twee onderwyseresse, Deonique Magerman en Amor Petersen, studeer ook tans. Deonique volg dieselfde kursus as Gloria, en Amor is besig met ’n hoëronderwys-diploma.
Die skool het tans 14 leerders, maar sal kan uitbrei tot 42. Vir Gloria en haar span is dit op dié tydstip genoeg dat die kinders wat daar is, individuele aandag en baie liefde geniet.
. ELRU is ’n nie-winsgewende organisasie in Kaapstad met jare se ondervinding in die vroeë-kinderontwikkelingsektor wat kandidate oplei.





