Met Bolandpark as agtergrond en die T20-eindstryd tussen Goldrush Boland en die Warriors wat op die punt was om af te slaan, het Boland-krieket die afge- lope Sondag (30 November) ‘n mylpaal gevier deur die bekendstelling van die 2025-skolekrieketspanne by ‘n petseremonie.
Vyf spanne – o.16 (meisies en seuns), o.17 (seuns) en o.19 (meisies en seuns) – is aan die publiek en die media voorgestel. Hierdie spanne sal Boland se kleure tydens die nasionale krieketweke in
Desember dra, en het hul pette ontvang.
Die meisies se o.16-week vind van 8 tot 13 Desember in Gqeberha plaas, terwyl die seuns van 9 tot 14 Desember hul beurt in Paarl kry. Die o.17-Platteland-weekspan vir seuns word van 5 tot 9 Desember in Nelspruit aangebied. Die o.19-meisies speel van 15 tot 20 Desember in Potchefstroom en die Khaya Majola-o.19-week vir seuns word van 16 tot 21 Desember in Bloemfontein beslis.
Die Weskus is goed verteenwoordig: Mampho Sekhamane van die Hoërskool New Vredenburg is in die o.19-meisiespan ingesluit, terwyl Johan Hanekom (Hoërskool Swartland), Jadewin le Fleur en Tyrique Boois (albei van die Hoërskool Porterville) die Swartlandstreek verteenwoordig.
Emile Mentoor van die Darling-krieketklub en Azraa Larey van die Malmesbury-krieketklub sal as amptelike tellinghouers vir die o.16-meisies en -seuns optree. Boland-krieket se president, Cecil Fielies, het die spanne gelukgewens en aangemoedig om Boland met trots te verteenwoordig. Hy het ook beklemtoon dat hierdie deelname ‘n belangrike stap in die ontwikkeling van skolekrieket is.




