Wyle Anri Kotzé saam met haar kêrel, Morgan Smit.Foto:


Hulle het lekker gelag, gesels en mekaar gegroet, min wetend dit sou die laaste keer wees dat hy sy dogter sou sien.

Só vertel Wouter Kotzé, die pa van Anri Kotzé.

Anri (24), ’n leerlingrekenmeester in haar finale jaar, en Rensie Lourens (56), ’n huisvrou, is albei dood ná ’n gru-botsing tussen drie motors Sondag 18 Junie op die R45-Hopefield-pad.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die botsing omstreeks 16:25 plaasgevind.

Helfrich het vroeër gesê volgens ’n ooggetuie het ’n 24-jarige bestuurder in ’n wit Hyundai van Vredenburg se rigting af gery en wou regs draai in Kerkstraat, die tweede afrit na Hopefield, toe ’n grys Toyota Etios van agter in die Hyundai vasgery het.

“ ’n Groen Datsun het van Malmesbury se rigting af gekom en weens die slag waarmee die Etios die Hyundai getref het, het die Hyundai die Datsun getref.”

Lourens, in die Datsun, en Kotze, in die Hyundai, is op die toneel dood.

Volgens Helfrich het die Etios se bestuurder en ’n vierjarige seun wat in die Datsun gery het beserings opgedoen.

Die nuus van Anri en Rensie se skielike afsterwe het albei se families en vriende geruk. Anri, wat in Moorreesburg gewoon het, het gereeld by haar pa in Vredenburg gekuier. Ná die naweek se kuier het sy hom gegroet en soos telkemale vantevore die pad terug Moorreesburg toe gevat. Niemand kon in daardie oomblik voorspel dit sou die laaste keer wees dat hulle mekaar sou sien nie. Maar toe kom die oproep.

Die familie beskryf Anri as ’n jong, sterk en selfstandige vrou wat altyd uit haar pad sou gaan vir ander; ’n liefdevolle, omgee-mens. Haar pa vertel dat hy haar uit-haar-maag-lag en haar liefde gaan mis.

“Sy was ’n groot steunpilaar vir my en my seun,” sê Wouter.

Morgan Smit, Anri se kêrel, sê haar lag was aansteeklik en haar teenwoordigheid sal altyd gevoel word.

“Sy was my elke dag, my vrede, sy was my toekoms en vandag is sy die beste deel van my verlede.”

Volgens Karen Rabe, Rensie se suster, was sy op die noodlottige dag op pad terug huis toe van ’n vriendin af toe die botsing plaasgevind het.

“Ons het glad nie die nuus verwag nie. Rensie was ’n goeie mens,” sê Rabe.

Die jongste van vier susters was ’n Velddrif-inwoner en ’n bekende gesig in die dorp.

“Sy was ’n ystervrou en ’n mamma duisend. Daar is soveel wat ’n mens kan sê. Die familie gaan haar verskriklik mis.”

Haar beste vriend, Erik Visser, stem saam dat Rensie ’n “fenomenale vrou” was. “Ons is al van kleins af vriende en loop al ’n lang pad saam. Sy was soos ’n suster vir my en haar deur was altyd oop. Toe ek die nuus hoor . . . dit was hartverskeurend, ek kan nie die gevoel beskryf nie.”

Visser sê hy staan by die familie, veral die kinders en Rensie se kleinkind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article