Die skielike dood van Lunelle Jefthas (51), departementshoof van die Karitas Spesiale Skool in Vredenburg, is nog moeilik om te verwerk.
Jefthas is Dinsdag 18 Junie weens ’n beroerte oorlede – iets wat familie en vriende nie sien kom het nie.
Volgens haar man, Jean Jefthas, was dit ’n gewone dag.
Weens Jefthas se outo-immuunsiekte het die paartjie op die dag van haar sterfte die dokter besoek vir ’n lewertoets, net om die neuroloog ’n beter prentjie van haar lewerfunksie te gee.
“Die neuroloog was geskok, want die vordering was so goed. Lunelle was ’n baie sterk mens,” vertel Jean.
Vir baie was sy ’n mense-mens en ’n gemeenskapsmens en sy kon enige plek met haar persoonlikheid verlig. Volgens Jean het hulle twee ’n hegte band gehad en hul verhouding het verskeie vlakke gehad, met baie wat hulle met mekaar kon deel.
Baie mense kan getuig van haar veggees en die vermoë om nooit op te gee nie, asook haar passie en liefde vir kinders.
Sy het in 2005 as ongekwalifiseerde onderwyseres in ’n beheerliggaamspos by Noordhoek Primêr begin. Sy het daarna besluit om verder te studeer om haar kwalifikasie in onderwys te verwerf.
Sy het by Panorma Primêr vir ses maande as gr. 2-onderwyseres gewerk, voordat sy die leer vinnig geklim het na die Karitas Spesiale Skool, waar sy as departementshoof aangestel is.
- Jefthas het in 2022 met gedeel haar grootwordjare het haar voorberei om ’n sagte plek in haar hart te hê vir kinders wat in moeilike omstandighede grootgeword het. Sy wou net die beste vir elkeen hê en ’n verskil maak.
“Om elke kind se naam en sy of haar omstandighede te ken en ’n geestelike band met elke siel te bou, is wat ek wil doen, om elke dag te probeer om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak,” het sy destyds gesê.
Drie van haar vriendinne – Freda Mentoor, Perl Straus en Lucia Reid – sê hulle gaan Jefthas mis. Hulle beskryf haar as ’n reguit mens met ’n sterk karakter en ’n persoonlikheid wat hulle drie gekomplimenteer het. Jefthas laat ’n groot leemte in die harte van baie.. Geen begrafnisreëlings was teen druktyd bekend nie.





