Bestanddele
200 g (200 ml) botter, in blokkies
gesny
250 g (300 ml) suiker
100 g (180 ml) koekmeel
75 ml (5 e) goeie gehalte kakao
20 ml (4 t) vanieljegeursel
3 ekstra-groot eiers, deeglik geklits
100 g donkersjokolade, grof gekap of
goeie gehalte sjokoladesplinters
(moenie kooksjokolade gebruik nie)
50-75 g amandels, gekap (opsioneel)
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n oondbak of bakplaat van ongeveer 16 x 25 x 3 cm met bakpapier uit. Die grootte van die bak is belangrik vir die regte baktyd en die beste resultate.
Smelt die botter en suiker oor lae hitte in ’n kastrol en roer deurentyd tot die suiker amper opgelos het. Verwyder die kastrol van die plaat sodat die mengsel kan begin afkoel. Die res van die bestanddele word in die warm kastrol saam gemeng. Sif die droë bestanddele saam en roer met die vanieljegeursel by die bottermengsel in. Meng deeglik met ’n silikoon-spatel of houtlepel.
Roer die eiers bietjie vir bietjie by en roer deeglik na elke byvoeging. (Die mengsel moenie nog te warm wees nie, dan gaan die eier begin stol.)
Roer die sjokolade en neute deur en skep die beslag in die gesmeerde bak.
Bak 20-25 minute of net tot ’n tandestokkie of toetspen skoon uitkom. Toets op meer as een plek, ingeval jy dalk gesmelte sjokolade raaksteek wat die stokkie nat laat lyk. Druk ook liggies in die middel op die poeding – as dit net gestol is, is dit gereed. Die bruintjies stol verder soos dit afkoel. Bak vir nog 5 minute indien nodig. Maar moenie die bruintjies te lank bak nie, anders word dit droog en hard. ’n Effense sagte binnekant is juis wat dit so lekker maak.
Sny poeding in blokkies of driehoekies en sit warm of teen kamertemperatuur voor. Vir ’n nagereg is dit heerlik met roomys, of geniet dit net so met ’n koppie koffie.
Wenke
Koffie-bruintjies: Voeg 30 ml sterk espresso- of filterkoffie saam met die vanieljegeursel by. Of meng 10 ml goeie gehalte koffiepoeier met 30 ml water en roer met die vanielje by.
Gebruik ander neute van jou keuse, soos makadamias, pekan- of haselneute.
Garneer bruintjies met vars bessies, roosblare, eetbare glitter (goue poeier) of sny ’n kartonstensil om patroontjies van jou keuse met versiersuiker of kakao oor te sif.





