Signs & Graphics het onlangs in sy nuwe tuiste, 23 Heuningklipweg op Vredenburg, ingetrek.
Hoewel dinge nou ’n bietjie anders lyk, word presies dieselfde gehalte by die nuwe perseel gehandhaaf.
“Ek is al 35 jaar in die bedryf, waarvan 30 jaar in die Weskus, so daai ervaring help ’n man,” sê Marius Fourie, eienaar van Signs & Graphics, oor die gewilde besigheid.
Signs & Graphics bestaan al sewe jaar. Voorheen was Fourie eienaar van Signage.
Fourie, Weslander se spotprentkunstenaar, het ook sy span se bekwame hande geprys.
“ ’n Ou soos Corrie (van Niekerk) loop al ’n lang pad saam met my, terwyl ouens soos Voet (Deuwaan Pienaar) en Angelo (Goeieman) dinge aan die rol hou.”
By Signs & Graphics kry jy ook altyd ’n goeie dosis humor. Hoe dan anders vir die skeppers van die gewilde Moertoegepomp-bord!
Dié bord pryk op ’n stukkende windpomp, wat vanaf die pad na Paternoster sigbaar is, en deesdae ’n bekende baken aan die Weskus is.
Só gewild dat selfs Moertoegepomp-hemde deesdae by Signs & Graphics verkoop word.
“Ons spesialiseer in alle drukbenodigdhede, van hemde tot borde tot stickers. As jy iets wil gedruk hê, dan sal ons ’n plan beraam om jou te kan help.”
Bel Signs & Graphics by 022 715 1204 of stuur ’n e-pos na mariussigns@gmail.com.




