“Hy was ‘n vegter – al van geboorte af,” sê Rosslyn van Rheenen ná die tragiese verdrinkingsdood van haar tienerseun.
‘n Groep tieners van Diazville, Saldanha, moes die afgelope Saterdag (29 November) geskok toekyk hoe die gevaarlike waters van die Atlantiese oseaan hul vriend en broer meesleur.
Christiano van Rheenen (15), bekend as Hano, se lewelose liggaam is omstreeks 18:20 in die see gekry nadat ‘n uitgebreide soektog vroeër die middag begin is.
Beamptes van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het sy liggaam opgemerk tydens ‘n gesamentlike soektog met die Saldanha-seegrenseenheid en lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in Vredenburg, die rampbestuur-afdeling en wetstoepassinglede van die Saldanhabaai- munisipaliteit en die nooddienste West Coast Medical Rescue en EMS. Die sterk wind wat gewaai het, het genoodsaak dat ‘n boot van die seegrenseenheid die liggaam na Peperbaai neem.

Die Van Rheenen-gesin, wat teen daardie tyd reeds die hartseer tyding gekry het, het by Peperbaai gewag. Die liggaam is omstreeks 19:20 daar aan die polisie se patologie-eenheid oorgegee.
Rosslyn beskryf haar seun as ‘n liefdevolle kind wat altyd grappies vertel het. Hy was die jongste van haar ses kinders en het alewig drukkies en soentjies vir sy broers en susters uitgedeel. “Hy was altyd bereid om te help waar hy kan. As ek geweet het hy wou see toe gaan, sou ek hom sterker aangeraai het om nie te gaan nie.
“Ek sou vir hom gesê het, al gaan jou maatjies, bly jy en jou broer net hier.”
Soos die familie gelyktydig vertel, is die groep van 14 kinders na die strand by Tabakbaai. Hano se ouer broer, Kay-ren van Reenen (17), was ook teenwoordig. Hy verduidelik hy het skielik uit die verte gehoor iemand skree net “daar gaan iemand”!
Vier seuns is die water in.
Kay-ren het so gehoop sy boetie is nie een van hulle nie en dadelik na Hano begin soek. ‘n Emosionele Kay-ren sê dit was ‘n groot skok om sy broer in daardie situasie te sien. Een van hulle vriende kon een van die seuns in die water red en het te- ruggedraai om Hano te probeer help. Soos Rosslyn verduidelik, het die seun hom aan die hand beetgekry en hom aangesê om voor hom uit te swem.
“Dis toe hy besef Hano is nie langs hom nie, en met die omdraai het hy agterkom hoe ver die sterk stroom Hano ingetrek het.”
Selfs in dié moeilike situasie waarin Hano hom bevind het, het hy steeds baklei om kop bo water te hou.

Sy ouer suster, Anoesjka Michaels, meen hy was ‘n vegter en het regtig probeer uitkom.
Volgens Carol Feris van die Saldanhabaai-munisipaliteit se rampbestuursafdeling is die nuus dat Van Rheenen verdrink het, ná die uitgebreide soektog met uiterste sorg, sensitiwiteit en respek aan sy vriende en gemeenskapslede by die Saldanha-polisiekantoor oorgedra.
“Dit is ‘n hartverskeurende verlies vir die Saldanha-gemeenskap – veral vir sy vriende wat saam met hom op die strand was.”
Maurice Goliath van EMS het die groep vriende vir skok behandel.
Joey Pieters, ‘n koördineerder van die Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief (SBSI), het vir die teenwoordiges by die stasie gebid en ‘n boodskap van ondersteuning gegee.
Kapt. Joseph Olifant het die gevare van strande en die belangrikheid van ouers en voogde se toesig wanneer kinders dié feestyd na strande gaan, benadruk.
Feris het haar kommer uitgespreek oor die moontlike emosionele gevolge van die tragedie waarmee van dié kinders gaan sukkel. Hulle sou Maandag (1 Desember) traumaberading by die departement van maatskaplike dienste ontvang. “Ons diepste meegevoel, gedagtes en gebede is met die oorledene se familie, vriende en gemeenskap gedurende hierdie moeilike tyd,” het Feris gesê.
Die Saldanha-polisie ondersoek die voorval, maar geen misdaad word vermoed nie, want Van Rheenen het geen sigbare beserings gehad nie en was slegs in ‘n kortbroek geklee.
Hoewel die familie se harte seer is, sal hulle al hul herinneringe aan Hano koester.






You must be logged in to post a comment.