Die liggaam van die tiener van Noordhoek wat sedert Woensdag 15 November onverpoosd gesoek is nadat ’n vriend die polisie verwittig het dat hy verdrink het, is vandag naby die Laaiplek-hawemond gekry.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het die 14-jarige vermoedelik verdrink nadat hy en ’n maat in die see by die Pelikaan-vakansieoord in Laaiplek gaan swem het.
Die polisie se waterpolisiëring- en duikeenheid, NSRI-reddingswemmers van die Mykonos-stasie, West Coast Medical Rescue en die EMS-nooddienste het op die noodoproep gereageer. Daar is vyf dae lank na hom gesoek.
West Coast Medical Rescue het ook die tragiese nuus op hul Facebookblad bevestig.
“Hy het uitgespoel nie ver van waar hy vermoedelik verdrink het nie,” het Helfrich gesê.
Hy is vermoedelik met verlede week se springgety, wat baie lae laaggetye en baie hoë hooggetye veroorsaak, in ’n sleurstroom vasgevang.





