Ten spyte van die onlangse swaar reënval en storms in die Wes-Kaap en Velddrif-omgewing, bly die nuwe De Drift-winkelsentrum op koers vir sy beplande opening op Donderdag 28 Mei.
Weslander het met Dorpstraat Ontwikkelaars bevestig dat die projekspan steeds volgens skedule werk en dat die sentrum, soos voorheen berig, wel sy deure op die aangekondigde datum sal open.
Die sentrum van sowat 7 200 m² sal ongeveer 25 winkelruimtes bevat en word geanker deur die nasionale kettingwinkels Checkers en Dis-Chem.
Ander bevestigde huurders sluit onder meer in Standard Bank, Mr Price Weekend, The Crazy Store, Pep Home, Spec-Savers en PNA.
Die ontwikkeling sal ook verskeie eet-, diens- en spesialiteitsondernemings akkommodeer, waaronder Urban Fish, Ripple and Tide Bistro, Columbine Roastery en Biltong Republic.
Hoewel winterweer die afgelope weke uitdagende toestande in dele van die Wes-Kaap veroorsaak het, het Dorpstraat Ontwikkelaars bevestig dat die bouprogram tot dusver nie van sy tydlyn afgewyk het nie.
Die openingsdag van De Drift word reeds geruime tyd deur inwoners en plaaslike ondernemings dopgehou, aangesien die sentrum ‘n beduidende toevoeging tot Velddrif se kleinhandel- en sakeaanbod sal wees.





