Die borgtog van die polisiebeampte van die Citrusdal-polisiekantoor wat daarvan aangekla word dat hy ’n getroude vrou in die aanhoudingselle verkrag het, is geweier.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die Citrusdal-landdroshof het op Woensdag 3 April bevind die staat het ’n prima facie-saak teen die beskuldigde deurdat hy voldoende met die verkragting en poging tot verkragting verbind kan word. ’n Prima facie-saak beteken voldoende bewyse is in die aanvanklike ondersoek gevind om met ’n verhoor of vonnis voort te gaan.

Ntabazalila het benadruk dat die staat aangevoer het die beskuldigde sal die slagoffer en ander getuies intimideer indien hy sou borgtog kry, aangesien dit tydens die borgtogaansoek aan die lig gekom het dat sy ondersteuners die slagoffer gedreig en aangesê het om die klagtes teen hom terug te trek.

Bradford Newman, die staatsaanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan en aangevoer die beskuldigde is ’n gevaar vir die veiligheid van die mense van Citrusdal.

verkrag in selle

Masixole Nzanzana, ’n ondersoekbeampte van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het in die hof getuig dat die slagoffer se man op Donderdag 29 Februarie ’n klagte van aanranding teen sy vrou ingedien het. Die beskuldigde het die slagoffer Vrydag 1 Maart in die vroeë oggendure in hegtenis geneem en na die polisiekantoor geneem, waar hy haar in ’n aanhoudingsel toegesluit het.

Hy het na bewering later alleen na haar aanhoudingsel gegaan, die selhek oopgesluit en ingegaan. Hy het haar na bewering aan haar hare gegryp en haar teen die muur vasgedruk. Die beskuldigde het hierna glo haar broek met geweld afgetrek en haar van agter verkrag, waarna hy haar met geweld omgeswaai en probeer het om haar ook van voor af te verkrag.

Sy het egter terugbaklei en hy het opgegee. Die slagoffer het die voorval by die polisiebeamptes wat op dieselfde skof was, aangemeld, maar hulle het haar klagtes na bewering nie ernstig opgeneem nie.

Sy het toe later die verkragting en poging tot verkragting by polisiebeamptes wat vir die oggendskof aangemeld het, aangegee.

Die polisieman is in hegtenis geneem en aangekla.

In Newman se argumente teen borgtog was die erns van die misdrywe voorop. Hy het ook verwys na die beskuldigde se geneigdheid om Bylae 1-misdrywe (wat seksuele aanranding insluit) te pleeg.

Newman het daarna verwys dat die beskuldigde in alle waarskynlikheid, indien vrygelaat op borgtog, ’n ander Bylae 1-misdryf sal pleeg.

Die staat het getuienis voorgelê van beweerde seksuele misdrywe wat die beskuldigde glo teen van sy vroulike kollegas gepleeg het.

ingesteldheid

Die staat het ook bewyse gelewer van die beskuldigde wat mense valslik in hegtenis neem sodat hy dan seksuele toenadering kan soek tot die vroue en meisies van die mans wat aangehou word.

Die staat het voorts daarop gewys hoewel geen strafregtelike sake aanhangig gemaak is oor die voorvalle van onvanpaste seksuele toenadering waaroor die klaers afsonderlike beëdigde verklarings afgelê het nie, dit dui op die beskuldigde se ingesteldheid om Bylae 1-misdrywe te pleeg.

Newman het verder aangevoer die beskuldigde kan met die misdrywe verbind word deur video-opnames van die kameras bo die aanhoudingsel se deure. Daarop kan gesien word hoe hy die aanhoudingsel alleen binnegaan en verlaat gedurende die tyd wat die beweerde oortredings plaasgevind het.

Hoewel nog gewag word op die uitslag van DNS-toetse, was Newman oortuig dit gaan die beskuldigde verbind met die misdrywe waarvan hy aangekla is.

Die staat het tot die gevolgtrekking gekom dat die aanwesigheid van lede van die publiek in die hof elke keer wanneer die aangeleentheid aangehoor word, in samehang met die verskeie gemeenskapsorganisasies se petisies teen die borgtogaansoek, dit in openbare belang is dat die beskuldigde aangehou word.

Volgens Newman sou die beskuldigde se vrylating die publiek se vertroue in die regstelsel ondermyn.

Die beskuldigde het in sy borgtogaansoek deur middel van ’n beëdigde verklaring aangevoer dat hy en die slagoffer konsensuele seks gehad het voordat sy skof op 29 Februarie begin het. Hy het beweer dat hy die slagoffer se aanhoudingsel besoek het om haar foto vir haar borgtogprofiel te neem, maar toe hy inkom, het sy geëis dat hy haar vrylaat.

Hy beweer hy het geweier, waarop sy vir hom gesê het as hy haar nie vrylaat nie, sal sy sê hy het haar verkrag.

Volgens Ntabazalila het die hof die slagoffer se weergawe geloofwaardig gevind aangesien dit deur omliggende omstandighede en bewyse ondersteun is. “Die beskuldigde betwis nie dat hy alleen in die slagoffer se aanhoudingsel ingegaan het nie en ook nie dat dit sy semen op die kombers in die aanhoudingsel van die slagoffer was nie.”

Die hof het beslis dat die beskuldigde in belang van geregtigheid nie vryge­laat word nie. Sy saak is tot Dinsdag 14 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article