Die bekende sangeres Sasha-Lee Davids het haar goue stem by die Hoedjiesbaai-hotel op Vrydag 14 Februarie kom deel.
Aangesien dit dié dag van liefde was, sê Dolfie de Bruin, die hotelbestuurder, was sy visie met die vertoning om liefde die toppunt van die aand te maak.
“Sasha-Lee is die koningin van liefdesliedjies en het haarself oortref. Die visie was om mense en liefde saam in een plek te kry. Asook om mense in die Weskus bewus te maak, nie net van die wonderlike talent wat daar buite is nie, maar dat Hoedjiesbaai ’n plek kan wees waar geliefdes, familie en vriende byeen kan kom en bekostigbare vertonings en vermaak kan geniet.”
Met 180 mense wat die aand bygewoon het, was dit een van heerlike samesyn, sing en dans. De Bruin sê dit was een van die beste Valentynsaande nog. Van die hoogtepunte was liedjies wat opgedra is aan hom, asook aan die sangeres Salomé.
De Bruin bedank sy personeel wat hard gewerk het om die aand ’n sukses te maak. Hy bedank ook vir Anel Esterhuizen, Riviera-hotel, Laaiplek-hotel en Sea Breeze Beauty Salon vir die skenkings vir die gelukstrekking.


