Terwyl die Wes-Kaapse regering planne maak om uiteindelik die provinsie se eie elektrisiteit op te wek, het die Saldanhabaai-munisipaliteit reeds planne vir sy eie departement vir volhoubare energie.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit is een van ses munisipaliteite wat destyds as proefkonyne gekies is om deel van die provinsie se energie-veerkragtigheids­projek uit te maak.

Met dié projek word daar gekyk of die Stellenbosch-, Swartland-, Drakenstein-, Mosselbaai-, Overberg- en Saldanhabaai-munisipaliteite hul eie elektrisiteit kan opwek.

Volgens Heinrich Mettler, munisipale bestuurder van Saldanhabaai, is die munisipaliteit se fokus op basis-krag wat 24 uur per dag, sewe dae van die week, beskikbaar moet wees.

“Die hoeveelheid elektrisiteit benodig vir die Saldanhabaai- munisipale gebied moet in perspektief gesien word, aangesien groot dele van die munisipale gebied direk deur Eskom voorsien word,” verduidelik hy.

Vele dele van die munisipale gebied kry hul kragtoevoer direk van die nasionale kragvoorsiener.

Die munisipale gebied benodig dus 52 tot 100 MVA om te verseker die ligte bly aan.

“Die munisipaliteit is in gesprek met die privaatsektor en oorweeg opsies vir kragopwekkingsprojekte.

“Hierdie is komplekse ooreenkomste wat aan ’n verskeidenheid van wetgewing moet voldoen,” sê Mettler.

Hy het nie uitgebrei oor na watter soort kragopwekkingsmetodes gekyk word nie.

Verskeie windplase en vloeibare petroleumgas-maatskappye is reeds jare lank in die gebied operasioneel, met aansoeke vir sonplase en die omstrede Karpowership wat ook al ingedien is.

David Maynier, voormalige Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het in 2021 in sy begrotingsrede verduidelik R48,8 miljoen sou aanvanklik vir die projek bestee word, met ’n verdere R20 miljoen van die provinsiale reserwes wat vir die projek aangewend sou word.

“Met die identifisering van die kandidaat-munisipaliteite is ’n evaluering en ontleding gedoen om vas te stel watter munisipaliteite die beste toegerus is,” het Maynier destyds verduidelik.

Sedertdien is die Saldanhabaai-munisipaliteit besig met die voorlopige volhoubaarheidstudies, in samewerking met die provinsiale span.

Volgens Mettler het die studies getoon die plaaslike munisipale gebied is meer geskik vir groter gemeenskaplike projekte as individuele projekte alleenlik vir die munisipaliteit.

As deel van die munisipale raad se makrostruktuur is die nuwe departement ook geskep.

“Ons beoog om in die nuwe begroting voorsiening te maak vir die aanstelling van ’n energiespesialis met kennis en agtergrond van kragopwekking om hierdie departement te begin en om skakeling met die provinsiale MER-kantoor te verbeter,” sê Mettler.

Hoewel Mettler nie ’n beraming vir Saldanhabaai se elektrisiteits­onafhanklikheid verskaf het nie, blyk onafhanklike kragopwekking ’n prioriteit vir die provinsie ook te wees.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Donderdag die eerste vergadering van sy nuutgestigte energieraad gehou.

Op dié raad se eerste vergadering is die grondslag gelê om te verseker dat die Wes-Kaap meer veerkragtig en bestand teen beurtkrag word, lui ’n verklaring (sien berig onder).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article