Die publiek het insae gehad en nou word die laaste verstellings gemaak aan die Saldanhabaai-munisipaliteit se 2023-’24-begroting.
Die aankoop van elektrisiteit van Eskom styg met 18,49% in Julie.
Vir die munisipaliteit beteken dit R431 miljoen wat 27% van die totale operasionele uitgawe van die munisipaliteit is.
Elektrisiteit en die kragkrisis het ’n groot invloed op die begroting met die koste van brandstof wat met 67% in die afgelope 12 maande gestyg het, verduidelik die uitvoerende burgemeester, André Truter.
Truter het op 30 Maart die konsepbegroting voorgelê.
Hy het verduidelik die munisipaliteit het 25 kragopwekkers en beoog om sewe nuwes aan te koop om te verseker water en riool word gepomp tydens beurtkrag.
Hoewel die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) nie amptelik die elektrisiteitsverhoging vir elektrisiteit aangekondig het nie, het die reguleerder in Maart verduidelik die verhoging vir munisipaliteite sal 18,49% wees.
Die begroting is dus met ’n 15,1%- verhoging vir plaaslike verbruikers opgestel.
Vandalisme ruk ook die munisipaliteit se sak. In die afgelope 10 maande het die munisipaliteit R2,8 miljoen opgedok om herstelwerk aan munisipale infrastruktuur te doen.
Die voorlopige verhogings vir munisipale tariewe is: eiendomsbelasting (uitgesluit leë residensiële erwe) en eiendomsbelasting – leë residensiële erwe styg met 7,5%; alle watertariewe gaan op met 5,3%, vullis 6,5%, riool met 15% en diverse tariewe met 6,5%.
Elektrisiteit sal aangepas word ná Nersa se amptelike aankondiging.
Ondersteuning vir behoeftige huishoudings is ook beskikbaar.
Sowat 25% van huishoudings in die munisipale gebied is behoeftig.
Waar die huishoudelike inkomste R5 500 en minder is, sal inwoners 100% subsidie ontvang.
Huishoudings wat ’n inkomste van tussen R5 501 en R6 200 per maand het, sal ’n subsidie van 70% ontvang.
Prakties beteken dit 50 gratis eenhede elektrisiteit plus die diensfooi, 6 KL water, gratis vullisverwydering en sanitasie vir ’n erf van 250 m². Huishoudings met kinders aan die stuur kwalifiseer vir 100% kwytskelding.
Die konsepbegroting bevat egter nie net slegte nuus nie.
Vyf nuwe skole is op pad en verskeie paaie sal ook geseël word danksy geld van die provinsiale regering.
Die plaaslike munisipaliteit sal oor die volgende drie jaar R838 miljoen in belegging van die Wes-Kaapse Regering sien.
Behuising is die grootste fokusgebied met R323 miljoen, gevolg deur vervoer en openbare werke (R248 miljoen), opvoeding (R254 miljoen) en gesondheid wat R13 miljoen sal ontvang.
Die finale begroting vir goedkeuring deur die munisipale raad sal op Dinsdag 30 Mei plaasvind.


