Saldanha het Saterdag harde bene op sy tuisveld gekou teen die besoekers van Mamre in hul eerste wedstryd van die Boland-Grootuitdaagbeker-reeks.Foto: Maryke Swart


Die verdedigende Boland-rugbykampioen, Saldanha-rugbyklub, het Saterdag op sy tuisveld 80 minute lank harde bene gekou in die span se openingswedstryd van die Boland-Grootuitdaagbeker-stryd teen Mamre.

Saldanha, wat rustyd 13-10 voor was, het die wedstryd 25-20 gewen.

Die wedstryd was in die eerste tien minute betreklik rustig met die tuisspan wat balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, maar nie deur die besoekers se verdedigingslinie kon breek nie.

Die groentruie van Mamre, wat vanjaar drie sewestitels gewen het in die vier eindstryde waarin hulle gespeel het, het gewys hulle hoef nie in die 15-man-kode vir enige span terug te staan nie.

Mamre het die tuisspan met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou.

Die tuisspan het egter eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie om 5-0 voor te loop. Die verdedigende kampioen het sy voorsprong later met nog ’n onverdoelde drie verdubbel.

Met singende ondersteuners wat die tuisspan aangehits het, het die besoekers egter die stadion stil gespeel en ook twee onverdoelde drieë behaal om sake gelyk te maak. Maar, danksy ’n strafdoel kort voor rustyd, het die toeskouers weer lewe gekry en die spanne het gaan water drink met die tuisspan 13-10 voor.

Saldanha het in die tweede helfte gewys hoekom hy die kampioen is en die wa met karakter en veggees deur die drif getrek.

Mamre het die tuisspan met aanvallende rugby en rotsvaste verdediging nooit die oorhand laat kry nie en die wedstryd kon enige kant toe geswaai het.

Met verlede seisoen se agterosse, wat ook reeds vroeg hul stem dik gemaak het, het Hopefield vroeg in die seisoen die grootste verrassing gelewer toe die patat-trappers die snoekvangers uit die Agterbaai 10-13 op dié se tuisveld geklop het. St. Helenabaai het verlede seisoen ’n droomseisoen beleef en was die enigste span wat Saldanha tuis en weg kon klop.

Die nuweling, Koringberg, het Vredenburg se Burg Boys laat sweet vir ’n oorwinning in Vredenburg en die tuisspan het die stryd 24-17 gewen.

Volledige uitslae van die naweek: Piketberg 24-23 Langebaan, Saldanha 25-20 Mamre, St. Helena 10-13 Hopefield, Vredenburg 24-17 Koringberg en Young Hearts 38-32 Velddrif.

Paternoster het ’n loslootjie gehad. Spanne gaan nou eers hul kerrievis geniet voordat ligaverpligtinge hervat word.

. Paternoster sal Saterdag, 15 April Young Hearts onthaal terwyl Velddrif Piketberg onthaal. Langebaan sal wil opmaak as die Burg Boys kom kuier en St. Helenabaai sal vyf sakke koring wil saambring as hul Koringberg besoek.

Hopefield sal sy momentum wil behou as die blou-tsunami uit Saldanha besoek aflê terwyl Mamre se groentruie ’n blaaskans neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article