Saldanha se Gareth Gertse breek deur Roses United se verdediging. Saldanha het dié wedstryd op hul tuisveld 25-28 gewen.Foto: Alida Buckle


Dit was ’n moeilike Saterdag (11 November) vir Roses United in die Baai, toe die tuisspan hulle 28-25 in sy agterplaas geklop het tydens hul Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd.

Ten spyte van sy nederlaag het die besoekende span ’n bonuspunt verdien. Hulle het egter talle geleenthede vir ’n oorwinning verbeur en die Saldanhabaaiers het die beste daarvan gemaak.

Die Roses het dit vir die tuisspan van die Weskus maklik gemaak, met die besoekers wat onder meer drie geelkaarte toegedien is. Teen rustyd was Saldanha danksy drie drieë reeds 15-6 voor.

Roses het teruggeslaan met sy heelagter, Adrian Jacobs, wat gaan afrond het om die telling na 11-15 te laat krimp. Saldanha het egter hard geantwoord en ’n verdere twee drieë gaan druk, wat hom ’n voorsprong van 25-11 besorg het.

Saldanha het vyf onverdoelde drieë gedruk, maar die plaasvervanger Brent Manuel se 50-meter-strafdoel was die verskil tussen wen en verloor vir sy span.

Met 25 minute speeltyd oor het ’n rooikaart die einde van Saldanha se linkervleuel, Mikyle Hanse, se wedstryd beteken en Roses het dié verwikkeling probeer benut.

Die terugvegpoging van die Wellingtonners het hulle twee verdoelde drieë besorg, maar dit was tevergeefs.

Saldanha het met 28-25 geseëvier.

. In Mamre het dié dorp se span vir die eerste keer in die toernooi oorwinning teen Delicious geproe. Die wedstryd kon net nie aan die gang kom nie en die spanne het met rukke en stote voortgeploeter. Mamre het egter sy kans gekry toe die skeidsregter ’n vasteskrum aan Mamre toeken toe Delicious in sy 22 m-gebied, 15 m van sy doellyn af, ’n oordeelsfout begaan het. Christopher Liedeman het die doellyn ná goeie losspel in Delicious se 22-m-gebied oorgesteek vir Mamre se eerste drie (telling 5-0).

Later het goeie spel deur Mamre se voor- en agterspelers Kirsten Adams in staat gestel om met die bal in die hand deur Delicious se verdediging te skeur om onder die pale af te rond. Die spanne het gaan water drink met die telling 19-12.

Delicious het net ná rustyd met goeie agterlynspel – toe Michael Evans in die linkerkantse hoek gaan druk het – die telling tot 19-17 laat krimp, maar die tuisspan het die besoekers uiteindelik verslaan.

Ander Uitslae: Robertson 45-35 Hawston; Safcol United 23-17 Bella Vista; Vanrhynsdorp Eagles 12-47 Darling; Young Hamiltons 24-27 Wesbank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article