Saldanha het Saterdag sy veldtog om sy titel ná twee nederlae weer op dreef gekry toe die span die Vanrhynsdorp Eagles se vlerke in dié se agterplaas geknip het.
Die verdedigende Boland-kampioen het homself ná twee naelskraapse nederlae, wat die span moes gewen het, onder druk geplaas.
Met die eerste drie wedstryde nou agter die rug, kan die kampioen nog die uitspele haal indien hy die oorblywende twee wedstryde wen en in dieselfde asem hoop die ander spanne bo hulle val vas.
Die oorwinning van 97-17 oor die Eagles het ook die verdedigende kampioen se punteverskil verbeter, wat dalk later in sy guns kan tel.
Saldanha, wat die naweek Roses van Wellington onthaal, sal die wedstryd met volpunte moet wen en hoop Hawston val vas teen Robertson.
Roses, wat tans die tweede plek op die groep-A-punteleer beklee, sal op sy beste moet wees en kan geen genade van Saldanha verwag nie.
Robertson, wat steeds onoorwonne is in die groep, sal die verdedigende kampioen ’n groot guns bewys as hy die besoekende Hawston, wat derde op die punteleer is, klop.
Darling het Saterdag op sy tuisveld 24-30 teen Robertson vasgeval. Die melkboere, wat stert in die lug was ná hul oorwinning oor Saldanha, sal die naweek probeer om hul veldtog weer op koers te kry wanneer hulle na Vanrhynsdorp reis.
Wesbank het Saterdag sy groep B-wedstryd teen Delicious van Clanwilliam 53-19 gewen en die tweede plek op die punteleer ingeneem.
Die koringboere, wat Young Hamiltons pak, sal sy posisie in die groep met ’n oorwinning wil verstewig.
Mamre, wat nog nie die soet van ’n oorwinning in die top-12 kon smaak nie, sal op sy tuisveld Delicious onthaal en sodoende sy eerste oorwinning wil behaal. Die groen truie van Kenny Stadler het 24-56 teen verlede seisoen se naaswenner, Bella Vista, vasgeval.. Die naweek se program is: Groep A: Robertson t. Hawston, Eagles t. Darling en Saldanha t. Roses. Groep B: Mamre t. Delicious, Safcol t. Bella Vista en Young Hamiltons teen Wesbank.





