’n Sakevrou van Saldanhabaai staan tereg op aanklagte van tenderbedrog van meer as R26 miljoen. Dit hou verband met ’n tender om vir drie jaar sekuriteitsdienste aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) te verskaf.
Wanda McCarthy (49), die hoofdirekteur van Securimed Response wat sake dryf as Crime Force, het op Dinsdag 18 Julie in die Vredenburg-streekhof verskyn.
Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is sy op borgtog van R20 000 vrygelaat en het die hof gelas dat sy met geen amptenaar van die munisipaliteit in verbinding mag tree nie.
Ntabazalila het gesê McCarthy se maatskappy het van 2018 tot 2021 sekuriteitsdienste aan die munisipaliteit in Hopefield, St Helenabaai, Paternoster, Vredenburg, Saldanhabaai en Langebaan verskaf.
Die staat beweer dat sy egter tydens die tenderproses bedrog gepleeg het deur wanvoorstellings te maak om die tender, wat ’n goedgekeurde begroting van R30,9 miljoen gehad het, te verkry.
Die suksesvolle maatskappy moes 77 sekuriteitswagte aan die dorpe verskaf, dag- en nagskofte ingesluit. Daar is ook verwag dat die sekuriteitswagte tot vlak C gekwalifiseer moes wees en by die Private Sekuriteitsbedryf se Regulerende Owerheid (Psira) gesertifiseer moes wees. Die maatskappy was ook verplig om arbeid en vervoer te verskaf, met minstens tien voertuie wat op die diensverskaffer se naam geregistreer was ten tyde van die bod.
Volgens Ntabazalila het McCarthy op 10 April 2018 tenderdokumente voltooi en onderteken, en reeds op 9 Januarie 2019 die sekuriteitsdienste begin verskaf. Die nasionale tesourie het eers op 24 Januarie 2019 die toekenning van die bod aan Securimed Response/Crime Force amptelik gepubliseer.
Ntabazalila het gesê dat twee ontevrede bieërs teen die toekenning van die tender geappelleer het, maar verloor het omdat SBM vas geglo het dat die tender regmatig aan Securimed Response/Crime Force toegeken is.
“ ’n Fluitjieblaser het onreëlmatighede in die tendertoekenning by die presidensiële blitslyn aangemeld en die saak is na die spesiale ondersoekeenheid verwys vir ondersoek.”
Die spesiale ondersoekeenheid, ’n onafhanklike statutêre liggaam, is by magte om getuies, bankstate en selfoonrekords te dagvaar, te deursoek, op bewyse beslag te lê, getuies onder eed te ondervra en om namens die staat te litigeer.
Hul ondersoek het daarop gedui dat McCarthy wanvoorstellings gemaak het deur aan te dui dat haar maatskappy ’n arbeidsmag van tussen 400 en 600 werknemers het terwyl sy gemiddeld net salarisse aan 69 werknemers uitbetaal het. Sy het ook aangedui dat sy ’n geregistreerde vloot van meer as tien voertuie het terwyl sy geen voertuie besit het nie, maar twee geleen het.
Op 30 Maart 2020 het die munisipaliteit die tender beëindig nadat R13,8 miljoen reeds vir gelewerde dienste betaal is.
Die staat voer aan dat die beskuldigde se optrede beide onregmatig en opsetlik was. Die feit dat die tender aan haar toegeken is, het die onsuksesvolle diensverskaffers benadeel. Hulle moes ’n aansienlike bedrag geld uitgee om teen die bedrieglike toekenning te appelleer.
“Gevolglik het ander voornemende tenderaars en die munisipaliteit werklike verlies en benadeling in die bedrag van R13,8 miljoen gely.”
Die saak gaan op Vrydag 21 Augustus in die Vredenburg-streekhof voort en Ntabazalila verwag dat meer aanklagte waarskynlik by die volgende verskyning bygevoeg gaan word.


