Inwoners van verskeie buurte in Saldanha het dit verlede week op ’n gemeenskapsvergadering duidelik gemaak dat hulle vuisvoos is vir die ongekende en meedoënlose vlaag bendegeweld waaronder hulle sedert verlede jaar gebuk gaan.
Volgens gemeenskapsleier Hoosain Padayachee dui dié vergadering op Woensdag 13 November op ’n belangrike oomblik van gesamentlike refleksie en nadenke.
Die diverse groep plaaslike inwoners, leiers en aktiviste, wat in die Diazville-gemeenskapsaal byeengekom het, het gepoog om ’n reeks dringende kwessies, wat die streek se groei en welstand ondermyn, aan te pak.
Die kommer oor misdaad was sentraal tot die besprekings wat ook aan dienslewering, munisipale bestuur en die gebrek aan tasbare voordele van die beduidende nywerheidsbeleggings in die gebied, veral van plaaslike myne en die vryhawe Saldanha (IDZ), geraak het.
Die misdaadkwessie het die vergadering oorheers met inwoners wat hul kommer oor die stygende misdaadsyfers in die gebied – veral die onlangse moorde, dwelmverwante oortredings, kleinsakerowe en die gebrek aan sigbare polisiëring – uitgespreek het.
Volgens Padayachee meen baie mense die polisie doen nie genoeg om misdaad in die gemeenskap te bekamp nie en munisipale leiers swyg oor die saak. Inwoners het gesê die “misdaadsyfer is buite beheer” en hulle kan nie “sonder vrees in die strate loop nie”.
“Gemeenskapsleiers meen hulle het te lank stilgebly terwyl misdaad die norm geword het.
“Hulle is dus nou onder druk om sterker standpunt oor misdaad in te neem en aan te dring op doeltreffender polisiëring.
“Ten spyte van die vele frustrasies en uitdagings wat op die vergadering uitgelig is, was die atmosfeer nie heeltemal negatief nie.
“Die gemeenskap het ’n sterk begeerte getoon om aksie te neem en oplossings te vind vir die probleme wat Saldanha teister,” het Padayachee gesê.
Volgens hom is verskeie positiewe voorstelle geopper en een van die belangrikste uitkomste van die vergadering was die stigting van gemeenskapskommissies om spesifieke probleme soos misdaad, dienslewering en ekonomiese ontwikkeling aan te pak.
Op Maandag 18 November, op ’n opvolgvergadering, het die gemeenskapskommissies terugrapporteer.
“Die dringende behoefte aan vinnige optrede is beklemtoon om die gemeenskap se bekommernisse aan te pak,” het Padayachee gesê.
John Arends, ’n gemeenskapsleier, gesê dat daar vinnig beweeg moet word omdat die kwessies nie langer kan wag nie.
Hy meen die uitdagings moet dringend opgelos word en dat die gemeenskap moet saamwerk om te verseker dat hulle stemme gehoor word.
Padayachee meen die ondersteuning van ’n wye reeks politieke en godsdienstige organisasies wat die gemeenskapsvergaderings ontvang, dui op ’n verenigde front vir verandering in Saldanha. “Die Saldanha-gemeenskap het ’n sterk en beslissende boodskap uitgestuur dat verandering nie gaan gebeur as ons dit nie laat gebeur nie. Namate die gemeenskap vorentoe beweeg, is daar ’n gevoel van hoop dat Saldanha deur eenheid en kollektiewe aksie die uitdagings waardeur dit in die gesig gestaar word, kan oorkom en ’n meer voorspoedige en veilige toekoms vir al sy inwoners kan bou,” het Padayachee gesê.



