Die bekroonde Suid-Afrikaanse (SA) Kaasfees keer ná twee jaar terug. Kaas en wynliefhebbers kan uitsien na ’n splinternuwe ervaring met ’n maandlange ontdekkingsreis van kaas en meer.
’n Reeks van vier SA Kaasfees opwip-pieknieks vind oor vier naweke in April 2022 by vier gewilde bestemmings plaas – van die Wynland tot Walkerbaai tot die Weskus en weer terug na die Wynland.
’n Verskeidenheid van uitstallers sal by elke SA Kaasfees opwip-piekniek alles bied vir ’n uithaler-piekniek, van piekniekmandjies tot plaaslike, internasionale boetiekkase, uitgesoekte wyn, bier en gin, asook besonderse plaaslike produkte.
Besoekers kan ook uitsien na gratis vermaak met top Suid-Afrikaanse kunstenaars, interaktiewe proe-ervarings met bekende sjefs en opwindende aktiwiteite.
Die SA Kaasfees opwip-pieknieks skop op Saterdag 2 April en Sondag 3 April af by die Warwick-wynlandgoed buite Stellenbosch. Hierna kronkel die pad na Benguela Cove Lagoon-wynlandgoed buite Hermanus op Saterdag 9 April en Sondag 10 April. Ná Paasnaweek is dit tyd vir die Weskus-roete tot by Groote Post buite Darling op Saterdag 23 April en Sondag 24 April 2022. Om April af te sluit en die nuwe maand van Mei in te lui, wag ’n herontdekking van Sandringham buite Stellenbosch op Saterdag 30 April en Sondag 1 Mei.
Kaartjies kos R350 per persoon per dag met besoekerstye van 10:00 tot 18:00. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets (bit.ly/sacheesefest-popuppicnics) asook in Pick n Pay-winkels. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. Slegs ’n beperkte hoeveelheid kaartjies is vir elke venue beskikbaar en streng Covid-19 protokolle sal geld.



