Die stem het gesê sy moet eers by die vulstasie stilhou en nie net verby ry nie.
Saterdagoggende ry Tertia van der Walt van Saldanha gewoonlik Kaap toe om kos en ander donasies vir die minderbevoorregte begunstigdes van haar liefdadigheidsorganisasie te gaan haal.
Dié betrokke Saterdag in September het Tertia ’n yslike taaklys gehad om af te handel en sy wou so gou as moontlik die Kaap-toe-ryery agter die rug kry.
Doelgerig en gefokus om die taak af te handel het sy die oggend van haar huis in Saldanha vertrek en voet in die hoek gesit toe sy op die Weskuspad indraai.
Maar toe sy naby die Langebaan-afdraai kom, het iets diep binne haar gesê sy moet eers by die Engen 1-Stop-vulstasie stilhou.
Sy was geensins lus om stil te hou nie, maar toe sy haar kom kry, sit sy haar flikkerlig aan om by die vulstasie in te draai.
Sy klim vies uit.
“Wat soek ek hier en hoekom mors ek tyd?” vra sy haarself.
Sy stap toe maar na die winkeltjie en vat vir haar ’n Weslander en ’n Coke.
Sy betaal.
“Nou het ek geld ook gemors . . .”
Met die uittrapslag sien Tertia ’n jong vrou met Checkers-sakke vol klere, ’n volgestopte swartsak en tasse voor ’n polisiewa sit.
Die vrou, nog ’n kind in Tertia se oë, is besig om die polisieman vir ’n rygeleentheid Kaap toe te vra.
Sy ry vanaand glo met ’n bus Pietermaritzburg toe.
Instinktief kyk Tertia en die polisieman mekaar in die oë.
“Ek is op pad Kaap toe, Milnerton toe.” Die woorde is by Tertia se mond uit voor sy regtig daaroor kan dink.
Waarom het sy sopas aangebied om ’n vreemde mens Kaap toe te neem? Sy is tog eintlik baie veiligheidsbewus en laai nie sommer vreemdelinge op nie.
Die vrou spring op.
Sy soek iemand wat haar na die stasie kan neem.
“Ek kan jou in Milnerton op ’n MyCiTi-bus sit,” bied Tertia aan.
Die koeël is deur die kerk. Sy kan nie nou meer die aanbod terugtrek nie.
Die jong vrou bars in trane uit.
“Ek kon haar verligting voel en sien.”
Tertia laai die vrou se goed in die bagasiebak en die twee val in die pad.
Terwyl hulle op die Weskuspad in die rigting van Kaapstad ry, vertel die vrou vir Tertia hoe sy op die Weskus beland het en hoe sy nou weer ná ’n paar maande op pad terug is na waar sy vandaan gekom het.
Tertia kan nie help om aan die goed in die bagasiebak te dink nie. Dis seker alles wat die vroutjie besit, haar hele lewe is in ’n paar plastieksakke geprop.
“Sy het my vertel hoe sy vir dae nie kon slaap nie, want sy was bekommerd oor die terugtog.”
En toe raak die meisiekind stil. Vas aan die slaap.
En Tertia besluit om haar nie wakker te maak nie, want sy is duidelik verby poegaai.
kommer begin knaag
Tertia het die vrou toe in elk geval op aanbeveling van Peet, Tertia se man, na die busterminaal in Kaapstad geneem.
So in die stilte en in die teenwoordigheid van die jong slapende ryloper begin Tertia aan haar bejaarde begunstigdes dink. ’n Effense kommer begin aan haar knaag.
Wat as sy te laat is vir die groente wat sy moet gaan oplaai en dit misloop? Wat van die ekstra petrol middestad toe?
Haar oog vang weer die slapende vrou. Gaan hierdie arme kind oukei wees?
Het sy kos vir die pad en wie wag vir haar aan die ander kant?
Tertia besluit toe om eers by ’n winkelsentrum stil te hou om vir die vrou twee groot sakke met ritssluiters by Pep te koop.
Sy koop ook kos by die Wimpy, en koeldrank.
“Here, hoe moet ek maak? Ek gee dan nou van die geld uit wat my man vir my gegee het om die motor-elektrisiën vir my kar te betaal.”
Toe Tertia by die sentrum uitstap, hoor sy haar selfoon biep. Iemand het sopas ’n R500-donasie inbetaal. Sy het nie ’n benul van wie dit kom nie, maar sy is dankbaar.
“Ek het toe geweet die Here het my die opdrag gegee en ek moet net gehoorsaam wees.”
Tertia help die vrou om haar goed in die nuwe sakke te pak en sy gee vir haar die kos.
Dan ry hulle verder, verby Paardeneiland en Kaapstad se bekende Internasionale Konferensiesentrum. Hulle kom by die stasie en die plek krioel van mense en taxi’s.
Nêrens is parkeerplek nie.
“Here, asseblief help,” het Tertia saggies gebid.
En daar kry hulle ’n parkeerplek reg langs die busterminus.
Die vrou draai na Tertia.
“Hoe sal ek weet as Jesus met my praat?” vra sy.
“Dis so seer. Hoekom is dit so swaar om elke keer weer op te staan?”
Tertia se hart bloei vir haar. Wat sê ’n mens?
“Staan net elke keer op as jy val, al is dit ’n duisend keer. Bid, vra vir hulp. Hou net aan met glo.”
raak slap
Tertia vind ’n man om haar sakke te dra en haar besittings vir die reis met plastiek toe te draai. Sy gee die jong ryloper geld om die man te betaal en betaal ook ’n ander een om die vrou op te pas.
Dan gee Tertia vir haar nog geld vir kos en lugtyd.
Die dankbare vrou begin huil en gryp Tertia styf vas.
“Sy het my vasgedruk asof sy dié vreemde gryskop tannie al jare ken. En ek het haar vasgehou soos ’n ma wat haar kind nie wil laat gaan nie.”
Sy raak slap in Tertia se arms, so asof sy veilig voel om vir ’n oomblik nie teen die moegheid en stres terug te baklei nie.
Die trane loop weer oor haar wange.
“Tannie, nog nooit tevore het God vir my gewys Hy bestaan nie. Maar vanoggend toe ek bang en bekommerd daar gesit het, het ek die Here gevra Hy moet my wys dat Hy regtig leef en dat Hy my hoor.”
Tertia se siel jubel, al is haar hart seer oor die jong, weerlose vrou in haar arms.
Alles het vandag saamgewerk om hierdie meisiekind weer te help glo.
Daarna kyk Tertia hoe sy wegstap.
Sy weet nie hoe dinge vir hierdie kwesbare mensie gaan uitwerk nie, maar God weet. Van een ding is Tertia seker, Hy leef. En Tertia kon steeds betyds al haar sake in die Kaap afhandel en het genoeg geld gehad om vir alles te betaal te danke aan die anonieme donateur.. Tertia van der Walt is die stigter en bestuurder van die liefdadigheidsorganisasie Blue Angels in Saldanha.





