Rowers wat ’n tienerseun met ’n vuurwapen in Malmesbury aangehou het, is deur die gemeenskap aangerand.
Drie mans het Dinsdag 24 Oktober ’n tienerseun (17) by sy huis in Nonkquebelastraat in Ilingelethu, Malmesbury, genader en gesê hulle is op soek na ’n elektriese haarskeerder waarmee hulle hul hare kan skeer.
Die tienerseun het toe die mans na ’n perseel op dieselfde erf geneem wat as ’n haarsalon gebruik word.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het een van die mans buite die salon gestaan terwyl die ander twee die seun met ’n vuurwapen op die perseel gedreig en geld geëis het.
Hulle het die seun na ’n ander kamer geneem en twee selfone en R600 geneem voordat hulle van die toneel af gevlug het.
Die nuus oor die rooftog het vinnig onder die gemeenskap versprei en twee van die verdagtes is die daaropvolgende nag deur die inwoners gevang en vermoedelik aangerand.
Die polisie het die verdagtes vir mediese behandeling geneem en die seun se selfoon, asook ’n “nagemaakte vuurwapen”, is in die rowers se besit gevind.
’n Nagemaakte vuurwapen is ’n replika van ’n vuurwapen; ’n speelgoedvuurwapen is enige voorwerp wat die voorkoms van ’n vuurwapen het.
Dit is ’n strafregtelike oortreding om ’n nagemaakte wapen te gebruik om vrees vir geweld by iemand anders te wek.
Die verdagtes het Donderdag (27 Oktober) in die plaaslike landdroshof verskyn.




