Alida Buckle
Riool wat by ‘n mangat uitborrel, in die pad afloop, sy weg na die stormwater-
stelsel en vandaar na die stormwaterdam vind, is al dekades ‘n bekommernis vir inwoners van Paternoster.
Inwoners het hul griewe tydens ‘n gesprek op die terrein op Donderdag 6 Maart vanjaar teenoor munisipale verteenwoordigers gelug.
Die sakeman André Kleynhans het foto’s van 1999 waar riool by dieselfde stormwatermangat uitborrel. Volgens hom kom die probleem al dekades aan met die oorspronklike Rioolpompstasie A in St. Augustinestraat wat nog nooit opgegradeer is nie.
Dié pompstasie het volgens Kleynhans nie die kapasiteit om die verhoogde druk van ‘n snelgroeiende dorp te hanteer nie. Die terugvloei stroom uiteindelik uit ‘n rioolmangat in ‘n ontwikkeling van
Anker Meesterbouers. “Die pompstasie is in 2004 gebou om aan die vraag van daardie ontwikkeling te voldoen.”
Kleynhans is destyds die versekering gegee toekomstige ontwikkelings in die dorp sou met die uitbreiding van die pompstasie gepaard sou gaan.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het in antwoord op ‘n navraag gesê die nuwe Paternoster-afvalwaterbehande- lingswerke is in Februarie 2013 gebou en in gebruik geneem.
“Hierdie projek het die opgradering van die pompstasie in St. Augustine (Pompstasie A) en die bou van ‘n nuwe hoofpompstasie B ingesluit. Die
St. Augustine-pompstasie is opgegradeer om aan toekomstige vereistes te voldoen. In hierdie stadium het die pompstasie voldoende kapasiteit en geen opgraderings is nodig nie.”
Inwoners kla ook dat die Paternoster-
afvalwatersuiweringswerke hopeloos onderpresteer, met swak behandelde afvalwater wat na die see vloei en ‘n gesondheidsrisiko vir die gemeenskap stroomaf inhou. Die inwoners meen skewe prioriteite in hulpbrontoewysing is deel van die probleem. Die SBM het nie op dié beskuldiging geantwoord nie.
Die SBM is ook gevra wat aan die pro- bleem gedoen gaan word. Die antwoord was dat die oorloop-afvalwater gemonitor en by die Nasionale departement van water en sanitasie (DWS) aangemeld word, soos voorgeskryf deur die Nasionale Waterwet, Wet 36 van 1998. “In die geval van nie-nakoming, sal die DWS ingryp, indien dit nodig geag word.”
Volgens die SBM is hy tevrede met die prestasie van die Paternoster-afvalwaterbehandelingswerke wat tans teen “38% hidrouliese lading met ‘n organiese lading van 642 kg COD/d” werk. Hulle verwys na die jongste analise deur ‘n onafhanklike, geakkrediteerde labora-
torium wat aandui die fekale kolivorme is minder as 1 telling per 100 ml en die chemiese suurstofvraag 24,5 mg/l.
Die oorloop van riool in waterbronne soos wat op onlangse foto’s en video’s in Weslander se besit gesien kan word, hou egter steeds ernstige risiko’s vir openbare gesondheid en die omgewing in. Onbehandelde riool bevat skadelike patogene soos bakterieë, virusse en parasiete wat siektes kan veroorsaak – van ligte gastroïntestinale probleme tot ernstige siektes soos hepatitis en cholera.
• Bykomende bron: Pathogen and Particle Associations in Wastewater (PubMed).







