Die dam in Welgemoedstraat, Vredenburg, naby Huis Wittekruin en die Vredenburg-dierehospitaal, is weer oorgroei met riete en die paadjies plek-plek onbruikbaar weens bossies wat dit toegegroei het.
Oggenddou of ’n reënbui maak dit glibberig om oor te loop en hou ’n wesenlike gevaar in vir enigiemand wat dit probeer gebruik.
Maar dit is nie al wat inwoners – veral die bewoners van die Leefreg-huisies wat op die dammetjie uitkyk – ontstel nie. ’n Groep rondlopers gebruik nou van die bankies by die oorgroeide riete om snags op te slaap en bedags word luidkeels vermeende gesteelde wasgoed daar onder mekaar verdeel.
Dit gebeur ook op Maandae wanneer die inwoners hul groen vullisdromme uitsit vir vullisverwydering dat dié groepie hul “skatte” by die dam kom uitsorteer. Dit wat hulle nie wil hê nie, word net daar gelos, soos die ou seil van ’n swembad, ’n klomp pale en ander plastiekbottels en selfs papier.
Volgens Cora Kotzé, ’n Leefreg-inwoner, het hulle al verskeie kere die afgelope drie jaar wat hulle daar woon, die munisipale wetstoepassingsafdeling gebel, maar dié het nou nog nie op hul pleidooie reageer nie.
“Ons oumense gaan tel maar gereeld die gemors op en maak skoon.”
Die munisipaliteit het die gebied ’n paar jaar gelede opgeknap, die sypaadjie langs die dammetjie geplavei en nog ’n bankie aangebring sodat die publiek die openbare gebied kan benut.
’n Deel van die grond om die dam behoort aan die Vredenburg-dierehospitaal.
Ethne Lawrence van die Saldanhabaai-munisipaliteit kon teen druktyd nog nie terugvoer oor die kwessie lewer nie.




