Die 24ste Weskus-marathon het met groot opgewondenheid die afgelope Saterdag (14 Maart) in Langebaan plaasgevind.
Altesaam 5 086 mense het deelgeneem, met ‘n rekord van 1 545 inskrywings vir die 42,2 km-marathon.
Volgens Louis van der Walt, die voorsitter van die marathon, was die atmosfeer op ‘n hoë noot en het deelnemers hulself vreeslik geniet. Deelnemers het aan die 5 km-pretwedloop of 10 km-, 21,1 km- en 42,2 km-wedlope deelgeneem.
Van der Walt meen die aandag aan elke detail het bygedra tot die sukses van die dag en dit ‘n onvergeetlike ervaring vir elke deelnemer van begin tot einde gemaak. “Die doel en visie van die Weskus-marathon is om die beste marathonbyeenkoms in Suid-Afrika te bly in terme van deelname en ervaring, asook om ‘n wenslys-wedloop vir elke marathonatleet te wees. Ons glo ons bereik dit reeds en moet sorg dat ons die beste bly,” sê hy.

Nosipho Lisa van Vredenburg het aan haar vierde Weskus-marathon deelgeneem en die 21 km-wedloop voltooi.
“Die Weskus-marathon is een van die groot wedlope en baie goed georganiseer. Omdat dit my eerste wedren van die jaar is en plaaslik plaasvind, hoe kan ek tuis sit terwyl my area gons van mense van ander provinsies en dele van die land? Vir my is hierdie wedloop nie een van die mees algemene wedlope nie. Jy kan nie op die bank sit en kyk nie; jy moet deel wees van die pret,” vertel Lisa.
Pascal Joseph, ook van Vredenburg, het aan die 42,2 km-marathon deelgeneem. Hierdie was sy sesde Weskus-marathon. Alhoewel hy sy ma net ‘n paar dae voor die marathon aan die dood afgestaan het, meen Joseph die wedloop was soos terapie vir hom. Om die marathon te voltooi was emosioneel, maar hy was trots omdat sy ma hom altyd ondersteun het.
“Alhoewel dit ‘n moeilike en heuwelagtige wedloop is, doen ek dit om my uithouvermoë vir die Two Oceans-marathon te toets en ook om dit te geniet. Die Langebaan-hardloopgemeenskap en hul behandeling laat ons elke keer terugkeer, selfs ná nederlae,” voeg Joseph by.
Van der Walt spreek sy dank uit aan die hoofborge van die Weskus-marathon – Langebaan Country Estate, wat al sy fasiliteite en mense beskikbaar stel; Tronox, wat die prysgeld van R100 000 geborg het; Smile FM, die nuwe mediavennoot; Wes- kus Nasionale Park, wat toelaat dat die marathon en halfmarathon binne die park kan plaasvind; die Weskus Nasionale Park Ereveldwagters, wat help met die organisering; sowel as die wenspan van Langebaan Strandlopers, ‘n plaaslike atletiekklub.
Groot opgewondenheid heers reeds vir volgende jaar se Weskus-marathon.






You must be logged in to post a comment.