Elke Nuwejaar hoop ons almal dat die nuwe jaar ’n beter een sal wees. Ons wil graag vooruit gaan en ’n beter lewe as voorheen hê. Dit is hoekom jong mense matriek wil maak en selfs na skool verder studeer; dit bied hoop vir ’n beter toekoms.
Ons het ook almal die hoop dat tegnologiese vooruitgang ons lewe sal verbeter. Dertig jaar gelede was landlyntelefone die aangewese manier van kommunikasie met mense verder weg as jou bure of die kantoor langsaan. Tien jaar later het baie van ons al ons telefone (selfone) met ons saamgedra. Vandag stel selfone en draagbare rekenaars ons in staat om van oral af te werk en daar word voortdurend gepoog om beter en vinniger internet daar te stel, soveel so dat landlyntelefone se dae getel blyk te wees.
Ek dink nie een van ons verlang terug na die dae toe dit ses weke geneem het voordat ’n landlyn by jou nuwe adres geïnstalleer kon word nie. Nou trek jy na ’n nuwe plek toe en neem maar net jou selfoon saam. Ja, selfs die wyse Salomo het gesê “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie.” (Pred. 7:10)
Maar soms het ek my bedenkinge. ’n Jaar of wat gelede het ek ’n ekstra spaarrekening by die bank geopen en ek moes meer vorms teken as nog ooit in my lewe vir so-iets. Ook toe ons verlede jaar ’n huis verkoop en ’n ander een gekoop het, was die papierwerk eindeloos. Dit terwyl ons vertel word rekenaartegnologie moet meehelp om papiergebruik te verminder – “Save the trees”.
Die ideaal van die Olimpiese Spele soos verwoord in hul slagspreuk, is al sedert 1914 vinniger, hoër, sterker. Ek dink dit is waarna almal streef met die vooruitgang in tegnologie, maar helaas, dit voel my dit ontwyk ons.
Ná ons onlangse verhuising gaan ek en my vrou bank toe vir onder meer ’n kansellasie en adresverandering. Daar moet toe ge-fica en wat nog alles gedoen word en dit neem twee klerke een en ’n kwart uur om dit vir my en my vrou te doen; dit ná ons die stryd gewen het om net eers tot binne-in die bank te kon vorder. Vriende het ons vooraf gewaarsku dat dit deesdae bykans onmoontlik is om daar in te kom.
Een voordeel is dat die ou landlyntelefone ook nou oorgeskakel het na mobiele funksionaliteit en werk nou soos ’n selfoon met ’n sim-kaart. Ons kon dus die landlyntelefoon ook saam trek. Maar o wee! ’n Adresverandering blyk haas onmoontlik te wees. Nadat ek my adresverandering by vier verskillende takke van die diensverskaffer aangegee het en ek elke keer belowe is dat dit gedoen is, het dit nog nie gebeur nie. Nou bly dit maar soos dit is. Dit is geen wonder nie dat mense sê: “Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.”
’n Storie van jare gelede wou dit hê dat tydens die politieke veranderings onder Mikhail Gorbachev in Rusland gedurende die 1980’s, ’n ou man die dokter besoek het. Die dokter vra toe wat makeer en hy antwoord die dokter moet tog asseblief sy oë en ore toets. Toe die dokter wou weet hoekom, sê hy dat hy nie kan sien wat hy hoor nie. Hy hoor alles van die hervorming en veranderinge (Glasnost & Perestroika), maar as hy dorp toe gaan, sien hy nog dieselfde lang rye en leë rakke.
Dit voel my ons beleef ook so-iets; tegnologie is veronderstel is om ons “vinniger, hoër en sterker” te laat leef, maar dit bring toenemende frustrasies namate persoonlike kliëntediens al hoe meer deur gerekenariseerde stelsels vervang word. Ek hoor dikwels mense sê “as ek net ’n slag met ’n mens kan praat” wanneer hul probleme nie opgelos kan word nie.
So, wat is die oplossing?
Ek sal wil sien dat goeie kliëntediens nie net vervang word deur gerekenariseerde stelsels nie, maar dat die twee hand aan hand sal loop, dat daar mense sal wees met wie ek en jy kan praat en wat ’n mens kan help wanneer die tegnologiese “wonders” nie kan nie.





