Die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) kry dalk binnekort sy derde windturbine-aanleg nadat ‘n hof- uitspraak verlede week (9 September) in die guns van die ontwikkelaar, Vredenburg Windfarm, beslis is.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verskeie beswaarmakers, bewaringsgroepe, huiseienaarsverenigings en bekommerde inwoners se vrese in die wind geslaan deur die beoogde reuse-Boulders-windturbine-aanleg op plaasgrond naby Weskusdorpe soos Paternoster, St. Helenabaai en Vredenburg die groen lig te gee.
Die uitspraak volg op ‘n hersieningsaansoek deur Erf 1050 Paternoster (Edms.) Bpk. in Paternoster teen omgewingsgoedkeuring vir die 140-MW-groenkragprojek, wat sedert 2020 hewige teenstand en hofsake trotseer.
Veral sekere inwoners van die bekende toeristedorp Paternoster het reeds miljoene aan regskoste bestee in ‘n poging om die beoogde windturbine-aanleg te keer. Vrese bestaan dat dié projek op hul voorstoep ‘n negatiewe uitwerking op onder meer toerisme, eiendomswaardes en die gebied se voëllewe gaan hê. Die bedreigde witkruisvleivalk en skaars bloukraanvoël kom in die omgewing voor.
Die SBM-gebied, wat uit sewe dorpe bestaan, het reeds twee windturbine-aanlegte – Die Umoya-windturbine-aanleg langs die R45 by Hopefield en die West Coast One-windturbine-aanleg tussen Vredenburg en St. Helenabaai.
Ironies genoeg was die West Coast One-windturbine-aanleg aanvanklik een van die sterk beswaarmakers téén die beoogde Boulders-windturbine-aanleg.
Volgens dié gevestigde windturbine- aanleg, wat al sedert 2015 in bedryf is, sal die Bouldersprojek, wat direk langs West Coast One gebou gaan word, die omgewing se windvloei beïnvloed, met nadelige gevolge vir die bestaande windturbine-aanleg.

Die gebied waar die nuwe windturbine-aanleg met sy meer as 40 turbines beoog word, is slegs sowat 7 km van Paternoster, een van die Weskus se bekendste en gewildste toerisme-bestemmings.
Volgens die Erf 1050-groep sal die Boulders-windturbine-aanleg se turbines sowat 120 m hoog wees en gaan dit die omliggende landskap oorheers.
Omgewingsgoedkeuring vir die Boulders-projek is reeds in 2020 deur Barbara Creecy, die destydse minister van omgewingsake, gegee.
‘n Regsgeding is toe deur Erf 1050 Paternoster van stapel gestuur, met ‘n versoek dat die projekgoedkeuring hersien word. Die saak is reeds in Mei vanjaar aangehoor, waarna uitspraak eers verlede week gelewer is.
In sy uitspraak het regter James Lekhuleni bevind dat die beoogde windturbine-aanleg nie ‘n groot invloed op eiendomwaardes sal hê nie en slegs ‘n marginale uitwerking op toerisme.
Die hof het ook die bewering dat die windturbine-aanleg ‘n negatiewe uitwerking op die bedreigde witkruis- vleivalk sal hê, verwerp.
Die regter het voorts bevind dat die besluit om die windturbine-aanleg te laat voortgaan, nie hersienbaar is nie.
Erf 1050 Paternoster het bevestig dat hulle vir verlof tot appèl gaan aansoek doen. “Ons het met skok kennis geneem van die hof se besluit om ons hersieningsaansoek van die hand te wys,” sê die groep in ‘n mediaverklaring, wat aan Weslander gestuur is.
Volgens Erf 1050 Paternoster het hulle die hofuitspraak bestudeer en laat dit hulle geen ander keuse nie as om aansoek te doen vir verlof tot appél.
“Ons is ten gunste van hernieubare energie, maar dit moet elders plaasvind waar dit nie die skade sal aanrig wat die beoogde Boulders-windturbine-aanleg gaan veroorsaak nie.
Dié reuse-windturbine-aanleg naby ‘n toeristedorp soos Paternoster sal die omgewing se karakter vir ewig verander. Toerisme het die dorp se primêre inkomstebron geword en die bedreiging van die omgewing se natuurskoon is ‘n ernstige risiko vir Paternoster se langtermyn- ekonomiese potensiaal.”





You must be logged in to post a comment.