Die fyn balans wat owerhede veronderstel is om tussen mynboubedrywighede en die bewaring van ’n sensitiewe ekostelsel soos die Olifantsriviermond moet handhaaf, is in die soeklig met die aansoek van ’n bewaringsdrukgroep, plaaslike vissersgemeenskappe en individuele vissermanne om mynbedrywighede in kritieke gebiede stop te sit.
In ’n deurslaggewende oorwinning vir die toekoms van die Olifantsriviermond en omliggende gemeenskappe, aldus Miles Masterson en Steve Pike van die omgewingsbewaringsdrukgroep Protect the West Coast (PTWC), het hulle verlede week ’n skikkingsooreenkoms met die Trans Hex-diamantmynreus bereik.
Die partye het Dinsdag 29 Augustus inderhaas buite die hof geskik voordat ’n uitgerekte en duur regsproses in die Wes-Kaapse hooggeregshof sou begin.
Dit spruit uit die regering se hernuwing van ’n mynreg verlede jaar vir ’n verdere 30 jaar, sonder die nodige openbaredeelnameproses of ’n eietydse omgewingsimpakstudie.
Masterson en Pike benadruk dié regte is gegrond op ’n verouderde omgewingsimpakstudie van 2002, wat “bygewerkte omgewingswetenskap, sosio-ekonomiese ontwikkelings en die waarde van die Olifantsriviermond vir lewensbestaan geïgnoreer het”.
Net voordat die hooggeregshof PTWC se aansoek sou aanhoor om ’n interdik teen die myngroep te kry, is ’n ooreenkoms buite die hof bereik en ’n hofbevel ter elfder ure in die hof toegestaan.
Dié aansoek is saam met die kleinskaalse vissersgemeenskappe van Olifantsrivier en Doringbaai en die individue Preston Goliath en Fabian Mohammed gedoen.
Die betrokke mynreg is maar een van vele wat die departement van minerale hulpbronne en energie (DMRE) die afgelope dekades in ’n strook al langs dié ekologies sensitiewe kus toegeken het.
Volgens die skikkingsooreenkoms mag Trans Hex en sy kontrakteurs nie in die kusgebied 2,8 km noord en 2,5 km suid van die Olifantsriviermond myn nie.
Dit sluit die strand tot sowat 500 m van die hooggetymerk in.
Hulle mag ook nie op land myn van die 11-km-kuslyn van die Olifantsrivier tot by Strandfontein, op die 1,8 km se strand tussen De Toring en Skuitbaai en op die 200 m se kuslyn tot by Duiwegat nie.
Volgens Masterson en Pike moet Trans Hex, een van Suid-Afrika se grootste diamantmyngroepe, nou dekades oue omgewingsbestuursplanne binne ses maande bywerk en aansoek doen vir ’n opgegradeerde omgewingsbestuursprogram.
PTWC het in Mei 2022 betrokke geraak nadat die vissersgemeenskap van Doringbaai aangemeld het dat mynbedrywighede tot hul verbasing en sonder enige vooraf kennisgewing of waarskuwing op hul strand begin het.
Daar is ontdek dat Trans Hex (voorheen bekend as die Moonstone Diamond Marketing-maatskappy) al meer as dertig jaar lank ’n ou mynperseel in Doringbaai besit en besig was om met hernieude mynregte diamante te myn.
Dié mynregte sluit ook ’n stuk kus sowat 15 km noord van Doringbaai in.
PTWC het in Desember 2022 ’n dringende aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof saam met hulle mede-aansoekers ingedien om Trans Hex, toe nog Moonstone, te verbied om verder in die gebied te myn.
Luidens die skikkingsbevel moet Trans Hex onder meer die impak van sy strand-, wal- en vaartuiggebaseerde mynbou in al sy bedrywighede identifiseer.
Die myngroep moet ook met gemeenskappe beraadslaag as deel van sy openbaredeelname-verbintenis en spesialisstudies onderneem wat direk met kleinskaalse visserye verband hou.
PTWC en sy mede-aansoekers mag luidens die hofbevel ook vier keer per jaar ter-plaatse-inspeksies van die mynboubedrywighede hou en spesialiste vra om ’n ogie daaroor te hou.
“Hoewel hierdie uitslag ’n oorwinning is, is dit ’n net ’n klein veldslag in die voortslepende oorlog teen onvoldoende gereguleerde mynbou.
“Baie werk moet nog gedoen word en die stryd teen onwettige mynbou aan die Weskus is nog lank nie verby nie,” het Mike Schlebach, die besturende direkteur van PTWC, gesê.
Masterson en Pike benadruk die ooreenkoms is ’n groot oorwinning in die voortdurende stryd om mynmaatskappye tot verantwoording te roep en DMRE se “aanhoudende mislukking om mynbou-aktiwiteite binne die grense van die wet te laat plaasvind”, teen te werk.
As ’n bevel van die hof is die ooreenkoms bindend en kan Trans Hex aanspreeklik gehou word indien hy versuim om daaraan te voldoen.





