Die eerste Hophuise in die Hopland-ontwikkeling is al meer ‘n dekade gelede aan gretige inwoners oorhandig, wat sélf jare lank gewag het om ‘n huis te kan besit.
Dié generasie laat die “duur” bekomde eiendom aan hul kinders na.
As ‘n mens na staatsvoorsiende huise kyk, is dit netjiese huise – ‘n aanwins vir die generasie wat nou daarin woon.
Dat ‘n Saterdagnag-vete die afgelope naweek na bewering daartoe kon lei dat twee van dié huise só in brande verwoes is dat dit moontlik gesloop sal moet word, is betreurenswaardig.
Twee gesinne sit nou sonder ‘n dak oor die kop.
Albei huise se afgebrande geraamtes was al wat met Weslander se besoek oor was.
‘n Brandreuk het in die lug gehang saam met ‘n atmosfeer van magteloosheid. ‘n Kassie is al wat uit die een huis gered kon word.
Geld om te herbou is daar nie; die staat gaan nie weer help nie.
Ander inwoners in die buurt staan verstom oor dié toeloop van sake … en die onskuldiges wat in die sameloop van omstandighede vasgevang is, moet nou maar daarmee vir lief neem dat hulle terug is op die plek waar húl ouers jare gelede was.
Dakloos …





