Weslander rig nie vrae aan munisipaliteite uit blote nuuskierigheid nie. Ons doen dit namens ons lesers – inwoners en belastingbetalers wat die munisipaliteit finansier en op sy dienste staatmaak.

Toenemend kry ons ons egter vae antwoorde, óf daar word eenvoudig gesê daar kan nie kommentaar gelewer word nie.

Dit is kommerwekkend.

‘n Plaaslike owerheid kan nie kies wanneer dit aanspreeklik wil wees en wanneer nie. Om op ‘n medianavraag te antwoord is ‘n munisipaliteit se plig en verseker deursigtigheid. Dit is nie ‘n guns aan ‘n individuele instansie nie.

Weslander is ‘n erkende skakel tussen die munisipaliteit en die gemeenskap.

Wanneer ons vrae onbeantwoord bly, word die gemeenskap geïgnoreer. Vir baie mense is Weslander se gedrukte uitgawe, webwerf en sosialemedia-platforms die enigste bron van verstaanbare inligting.

Munisipale besluite raak almal se daaglikse lewens, byvoorbeeld wat en hoeveel inwoners vir dienste bestaal.

Is dit dan onredelik om verduidelikings te eis wanneer kwessies geopper word, soos riool wat in huise en strate oorloop?

Stilswye of vae antwoorde skep wantroue, lei tot spekulasie en ondermyn die verhouding tussen die munisipaliteit en die publiek wat dit moet dien. Al wat ons vra, is oop, eerlike kommunikasie, want instellings wat met die publiek se geld werk, is belastingbetalers antwoorde verskuldig.

Weslander gaan nie ophou vrae stel nie; ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons lesers.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article