’n Rare verskynsel op die strand by Kraalbaai in Langebaan vandeesweek het omtrent die tonge los gehad.
Dit was nadat ’n video van ’n Kaapse kobra wat ’n bielie van ’n pofadder probeer verslind, op sosiale media die ronde gedoen het.
Met sy oë wat te groot was vir sy maag het die kobra vinnig besef hy het dalk meer afgebyt as wat hy kon sluk.
Volgens die persoon wat die video geneem het, was hy op die strand om te hardloop toe hy alles sien afspeel. Hy is deur omstanders, wat die twee slange se stryd van die begin af dopgehou het, meegedeel dat die kobra die pofadder uit die bosse strand se kant toe gejaag het en toé probeer het om ’n feesmaal van hom te maak. Gelukkig kon die pofadder net betyds wegkom.
Op sosiale media het mense hul ongeloof uitgespreek. Baie was gefassineerd deur die verskynsel, terwyl ander die kobra se poging as “heelwat ambisieus” en “braaf” beskryf het.
Volgens Etienne Swanepoel van Dwarskersbos Snake Rescue is dit min dat ’n mens sien wat slange eet, maar sê dit gebeur eintlik heel gereeld dat Kaapse kobras wel pofadders vang en eet.
“Hulle probeer dit maar gewoonlik doen waar hulle beskut is, juis omdat hulle baie kwesbaar is terwyl hulle eet. Die kans dat ’n pofadder die byt van ’n Kaapse kobra sal oorleef, is nie goed nie omdat hulle twee verskillende soorte gif het. Die Kaapse kobra het neurotoksiese gif en die pofadder sitotoksiese gif. Dit is oor die algemeen die pofadder wat aan die agterspeen suig en nie oorleef nie.”
Swanepoel meen wel die video is van ’n unieke aard juis omdat dit nie iets is wat Jan Alleman aldag met sy eie oë te sien kry nie. Dit is maar nou eenmaal so – Moeder Natuur sal altyd ’n manier vind om ons te verbaas.





