‘n Speler van Porterville moet uithaal om Re-John “Bodie” van der Ventel van Saron van agter af in te haal. Foto: Cailyn Titus

Rugbyliefhebbers het die afgelope Saterdag (14 Junie) na Pellappark in Porterville gestroom vir die langverwagte Grootuitdaag-derby tussen die dorpspan en Saron. Die twee bure het mekaar vroeër in die Sanlam-derby-bekendstelling ontmoet en die tafel was gedek vir ‘n stryd van formaat.

Toe die skeidsregter net ná 16:00 die begin van die wedstryd aandui, was dit tyd om die vriendskapsbande vir eers van die veld te skei. Die passie van die ondersteuners was duidelik sigbaar met sang en trots gebrandmerkte T-hemde wat die geesdrif aangevuur het.

Porterville was vasbeslote om sy vorige nederlaag teen Saron reg te stel en het vroeg gewys hoe oorgehaal hulle vir die stryd is. In die eerste vasteskrums het hulle Saron twee keer teruggestoot, wat hul tuisskare laat brul het.

Hulle het hul oorheersing begin toon met Ernest Maroem se strafskop vir ‘n vroeë 3-0-voorsprong.

Saron het heftig gereageer toe Re-John van der Ventel sy eerste van twee drieë gedruk en Conroy Witbooi dit verdoel het. Dit het Saron ‘n 7-3-voorsprong gegee, maar hul momentum is geknou toe dissiplinêre probleme tot twee geelkaarte gelei het, wat hulle tot ‘n dertienmanspan verminder het.

Porterville het die geleentheid gebruik en Damian Isaacs het sy eerste drie gedruk, wat hul voorsprong tot 10-7 verhoog het. Saron het egter vasgebyt en Porterville tot foute gedwing.

Witbooi het ‘n strafskop benut om die telling op 10-10 elke gelyk te maak. Hy het kort voor rustyd nóg een suksesvol deur die pale gestuur om sy span met 13-10 in die voorste plek te plaas.

Tydens die blaaskans het die afrigters hul spelers streng oor dissipline toegespreek en die tweede helfte het met meer taktiese benaderings begin.

Porterville het op sy skrum-mag voortgebou en ná nog ‘n geelkaart vir Saron die telling met ‘n strafskop op 13-13 gelyk getrek. Janile Jantjies se onverdoelde drie het Porterville ‘n voorsprong van 18-13 gegee, en nog ‘n drie deur Isaacs het die telling tot 23-13 gerek.

Saron het met vasberadenheid terugbaklei toe Cijay van Wyk ‘n drie gedruk het, wat Porterville se voorsprong na 23-18 verklein het. In die laaste minute het Van der Ventel sy tweede drie agter die pale afgerond, wat die eindtelling op 23-23 gelyk gestel het. Chris Ontong van die Saron- rugbyspan het na afloop van die wedstryd gesê: “Porterville se skrums het ons aanvanklik

geklop, maar ons het hul intensiteit later bemeester. Ons toon duidelike groei en met gefokusde aanpassings bou ons momentum vir die tweede ronde.”

Die epiese stryd het weer eens die diepte van die Grootuitdaagbeker-stryde in Boland-rugby weerspieël.

Grootuitdaag-uitslae

Saterdag 14 Junie 2025

• Swartland

Darling 38-20 Riebeeck United; Wesbank 23-17 Mamre; Porterville 23-23 Saron; Good Hopes 16-24 Never Despairs; Moorreesburg 33-21 Voorberg; Abbotsdale 42-20 Villagers Wittewater.

• Weskus

Saldanha 92-10 Steenberg’s Cove; St. Helena 26-32 Langebaan; Velddrif 36-31 Paternoster; Hopefield 31-29 Young Hearts; en Vredenburg 41-24 Piketberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article